Teks: 1 Samuel 19: 18-24
Inleiding: Elke mens het goed in sy lewe wat hy gerieflikheidshalwe eerder vir ander mense wil wegsteek. Al daardie skandes. Dinge waarvan jy weet dat mense jou daaroor sal veroordeel indien hulle moet uitvind wat jy doen of gedoen het.
Daarom is dit vir ons maklik om vir mense van die sukses in ons lewe te vertel, maar dis minder maklik om te gesels oor die mislukkings en skandes. Daaroor bly ons gerieflikheidshalwe stil.
M.a.w. ons hou iets voor wat ons nie werklik in ons harte is nie. Ons doen dit omdat ons bang is vir die skande. Wat sal mense van my dink.
Hierdie gedeelte vertel ons nou van Saul se skande. Hy is deur God verlaat as gevolg van sy sonde. Hy is verwerp as koning.
Dit is eintlik ironies dat wanneer Saul vir Dawid wil doodmaak hy net nie so ver kom nie. Niks werk nie. Hy word gefnuik deur sy eie seun wat die opvolger van die troon is, deurdat hy vir Dawid opkom in hoofstuk 19 en in hoofstuk 20 lei hy sy pa om die bos deurdat hy vir Dawid waarsku teen sy pa se bose plan om hom dood te maak.
Verder het Saul se dogter Mikal hom ook bedrieg deur vir Dawid te help om van Saul te ontsnap.
Nou het ons ook gelees van Dawid wat by die profeet Samuel kom en ook by hom skuiling vind. Dawid geniet ook die welbekende profeet van Israel se goedgesindheid.
Dawid word gehelp deur hoë lede van die koninklike familie en boonop ook deur Samuel wat die godsdienstige leier van die tyd was. Tog maak die skrywer dit baie duidelik dat al hierdie ontkomings ‘n manifestasie/openbaring was van die feit dat die Here met Dawid was.
Daarom sien ons dat Saul in hierdie hoofstuk besluit om sake in sy eie hande te neem. Hy stuur eers sy boodskappers om vir Dawid gevange te neem. Maar dan sien ons hoedat daardie selfde boodskappers wat onder invloed van die koning van Israel kom om Dawid gevange te neem, daardie boodskappers bevind hulleself daar by die profetekwartiere onder baie sterker invloed. Hulle word in besit geneem deur die Koning van die heelal. Soveel groter is hierdie invloed dat hulle begin om as profete op te tree.
Dieselfde het ook gebeur met die tweede en derde groep wat onder die invloed van koning Saul na Rama toe gestuur is om vir Dawid gevange te neem.
Daarom besluit Saul uit absolute desperaatheid om self hierdie saak te behartig. Die ironie is dan dat Saul nie soos sy boodskappers begin profeteer wanneer hy by die profetekwartiere kom nie. Hy het al begin profeteer terwyl hy oppad is en wanneer hy dan by die profetekwartiere kom is hy in so ekstase dat hy begin om sy koninklike klere uittrek. Vir ‘n hele dag lê Saul kaal en hulpeloos voor Samuel.
Wat nou belangrik is rondom die feit dat Saul sy klere uitgetrek het, is die feit dat naaktheid in die Bybel se tyd verbind is met die skande van sonde. Dit was toe Adam en Eva van die verbode vrug geëet het wat hulle skaam geword het. Voor die sondeval staan daar:
“Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie.” (Gen. 2:25)
Die sonde het nog nie die skande oor die mens gebring nie en daarom was dit nie nodig dat hulle hul naaktheid moet bedek nie. Hulle was rein en deursigtig sodat niks weggesteek hoef te word nie. Hulle het nie nodig gehad om hulleself te bewys nie, want hulle het geen sonde in hulle gehad om oor skaam te wees nie.
Die sondeval het gemaak dat die mens homself moet bedek sodat sy ware klere nie gesien word nie. Die probleem is, dat geen bedekking goed genoeg is nie.
Daarom moes God intree. Hy bedek vir Adam en Eva deur self die bloed van ‘n onskuldige dier te neem en hulle naaktheid te bedek met daardie dier se vel. ‘n Dier se bloed wat natuurlik vooruit wys na die ware Lam wat geslag sou word.
Dis die rede hoekom ons dikwels iets voorgee wat ons glad nie is nie. Ons probeer die sonde op ons eie manier bedek. Ons is bang vir wat mense van ons gaan dink en daarom gee ons voor dat ons tot alles in staat is, want wat sal hulle sê indien hulle ons tot in ons diepste wese ken.
Met dit nou in gedagte kom Saul en hy trek sy koninklike klere uit. Hy het die heeltyd agter sy koningskap geskuil terwyl hy lank nie meer die koningskap werd was nie. In hoofstuk 15 het Samuel al vir hom gesê:
“Die Here het die koningskap van Israel nou van jou afgeskeur en dit gegee aan jou naaste wat beter is as jy.” (1 Sam. 15:28)
Saul kan dalk vir die volk ‘n rat voor die oë draai deurdat hy mooi geklee is met sy koninklike gewaad, maar die Here kyk dwarsdeur hom. Omdat Saul die Here verwerp het, het die Here hom as koning verwerp.
Hierdie skande wat Saul se sonde oor hom gebring het, word ook verder beklemtoon deur die gesegde wat lei:
“Is Saul ook onder die profete?” (1 Sam. 19:24)
Wat hierdie gesegde Ironies maak is die sterk verbintenis wat dit met hoofstuk 10:11 het. In daardie hoofstuk word beskryf hoe Saul as koning oor Israel gesalf is en die Gees van die Here het oor hom gekom.
God se teenwoordigheid in hoofstuk tien het gemaak dat Samuel vir Saul kon sê:
“Wanneer hierdie tekens oor jou kom, moet jy doen wat jou hand vind om te doen, want God is by jou.” (1 Sam. 10:7)
Dit - terwyl die Gees hom hier in hoofstuk 19 beperk en hom tot onderdaan dwing.
In hoofstuk 10 bevestig die Gees dat Saul tot koning oor Israel gesalf is terwyl Saul hier in hoofstuk 19 naak en magteloos op die grond lê. Sy koninklike kleed is van hom afgeskeur.
In Hoofstuk 10 het die woorde “Is Saul ook onder die profete?” gedien as bevestiging dat God by Saul as koning is. Hier in hoofstuk 19 dien hierdie woord as bevestiging dat God nie meer by Saul is nie.
Nou, waar pas ons in hierdie hele verhaal in. Wat leer dit vir ons?
Soos Saul se lewe daarvan getuig het dat hy die Here verwerp het. En nadat die Here hom as koning verwerp het, het hy agter sy koningskap geskuil.
Netso getuig ons lewens ook dikwels van al die dinge waaragter ons skuil. Al die dinge wat vir ons belangriker geword het as ons verhouding met die Here. Ons jaag posisies in die lewe na om eer, roem, rykdom, geluk en vreugde te kry. Daarom tree ons soms baie desperaat op om daardie sake wat vir ons so belangrik is te behou.
In plaas daarvan om goeie leiers te wees wat die welstand van die volk van God of die kerk te bevorder, soek ons net soos Saul na ons eie gemak en ons eie familie se voortbestaan. Ons optrede en desperate soeke na geluk en vreugde in hierdie lewe, wys dikwels dat ons God verwerp het en hierdie aardse geluk nastreef. Dis die mantel wat ons wil aantrek. Dis die kleed waarmee ons ons tekortkominge wil toemaak.
Dan wys die Here ons hier dat ons desperate soeke na vreugde en voorspoed lei tot diepe vernedering. Wat gaan van ons oorbly as die Here daardie status wat jy by jou werk het weg vat, of as hy jou finansiële voorspoed wegvat of as hy jou gesondheid wegneem.
Met hierdie virus is ons presies daar. Die moontlikheid dat hierdie goed wat vir ons so belangrik is van ons weggeneem word, word ‘n realiteit. Wat gaan van ons oorbly as hierdie goed van ons weggeneem word? Ons sal dan ook soos Saul in nederigheid voor die troon van God wegkwyn, want ons het aan goed vasgehou wat ons nie kan red nie. Dis hoekom mense soms by ‘n punt in hulle lewe kom waar hulle besluit om eerder hulle eie lewe te neem.
Maar, as Nuwe Testamentiese gelowiges het ons soveel hoop in Christus. Hy wat die Koning van die heelal is en met koninklikheid beklee is, Hy was bereid om daardie kleed uit te trek. Hy is van alle eer en aansien beroof deurdat mense Hom kaal aan ‘n kruis opgehang het.
Sy boklere het hulle in vier dele verdeel en vir sy onderkleed is geloot. Hy is tot in die dood toe verneder omdat Hy ons sonde op Hom geneem het. Daarom skryf Paulus: “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.” (Gal. 3:26-27)
Christus was bereid om vir ons sonde en opstand te sterf sodat ons met sy heerlikheid beklee kan word. Ons moet sien hoe Christus bereid was om ter wille van ons verneder te word. Sy koninklike kleed is uitgetrek en in stukke geskeur, sodat ons ‘n nuwe kleed mag kry. Sodat ons sy kleed mag ontvang. ‘n Kleed wat daarvan getuig dat sy bloed vir ons betaal het. Hoor hoe word hierdie kleed beskryf!:
“Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek. Ek is soos ’n bruidegom met ’n priesterkroon op, soos ’n bruid met haar juwele aan.” (Jes. 61:10)
Ons is in Christus verlos. Ons is nou waardig om kinders van God te wees. Jesus het met ons sonde, kaal voor die troon gestaan, sodat ons met sy oorwinnaarsklere as oorwinnaars oor die sonde voor die troon kan staan.
Slot:
Wanneer ons so daarna kyk dan moet elkeen van ons erken dat ons ook verdien om soos Saul verneder te word. Ons is niks beter as Saul nie, want dit gaan vir ons ook dikwels net oor ons eie eer, en geluk en voorspoed. Ons soek ons waardigheid in aardse goed.
Ons sal net ons perspektief op die lewe kan verander wanneer ons verstaan wat ons verlossing in Christus vir ons beteken. Sy verlossing is vir ons soos ‘n vel waarmee Hy ons sonde bedek. Deur Hom word ons waardig gemaak!
Trek al daardie klere uit wat bevlek is met die sonde en wat staat maak op jou eie krag. Al daardie dinge wat jy so belangrik ag en dink dat dit jou lewe sal verryk.
Daar is net een kleed wat die skande van ons ellende kan bedek en dit is die offer van Christus aan die kruis.
Beklee jou daagliks met Christus deur Hom as jou verlosser te vertrou.
Comments