Teks: Johannes 19:17-27
Teksvers: Joh. 19:
Die mens se diep ellende word hier duidelik deur veral drie aspekte. Die wreedheid van die Jode, die sluheid van Pilatus en die ongevoeligheid van die soldate.
Wreedheid
Die Jode het daarop aangedring dat Jesus gekruisig word. Die kruisiging was 'n vreeslike wrede en pynlike manier om te sterf. Die gekruisigde sou op die grond lê sodat sy hande in die horisontale balk gekap kon word. Daarna is die balk vasgemaak aan die vertikale balk en die gekruisigde se voete is dan aan daardie balk vasgespyker.
Die rede daarvoor was om die persoon se lyding uit te rek. Om asem te kon haal sou die persoon met sy bene moes opdruk en deur sy arms moes hy homself probeer optrek. Dit het uit die aard van die saak erge spierspasmas en ondraaglike pyn veroorsaak.
Dis ook waarom ons later lees (Joh. 19:31) dat die bene van die gekruisigdes gebreek is. Die gevolg was dat hulle dan nie meer met hulle bene kon opbeur om asem te haal nie. So het hulle versmoor en vinnig tot hul einde gekom.
Sluheid
Pilatus maak 'n kennisgewing waarop staan, "Jesus van Nasaret, Koning van die Jode." Pilatus was goed bewus dat hierdie beskuldiging vals was (vgl. 19:4, 6, 12). Tog pas dit hom goed, want so kan hy voorgee dat hy aan die keiser getrou was deur iemand tereg te stel wat aanspraak gemaak het op die koningskap. Daarom laat hy dit ook in al drie tale skryf wat in daardie tyd gebruik was. Op die manier probeer hy sy eie saak bevorder.
Ongevoeligheid
Hierdie gedeelte openbaar ook die ongevoeligheid van die soldate. Die feit dat hulle die klere in vier verdeel het, wys dat daar vier Romeinse soldate betrokke was by die kruisiging. Ten spyte van die ontsettende lyding wat die veroordeelde aangedoen is, verneder hulle Hom ook deur al sy klere van sy lyf af te stroop en tussen mekaar te verdeel.
Wanneer hulle egter by die onderkleed kom, was hulle nie bereid om dit te skeur nie. Vir die netjies aanmekaar geweefde onderkleed loot hulle om te bepaal wie dit kry.
In elkeen van hierdie situasie word die selfsug van die mens voorop gestel. Die sonde maak dat ons net na ons eie belang kyk en dit maak van ons wrede, slu en ongevoelige mense. Dit is hoekom ons mense afkraak en sleg maak om onsself te bevoordeel.
Ons moet sien wat ons selfsug doen. Dit breek af en vernietig. Ons maak seer om 'n punt te bewys of om nie ons eer te skend nie. Ons sal eerder duisende lewens in gevaar stel as om te erken dat ons 'n fout gemaak het. Ons gee voor dat ons iemand help, maar eintlik doen ons dit om self voordeel te trek.
Die wonderlike van hierdie gedeelte is om te sien hoe God aan die werk is.
God is aan die werk
Anders as Jesus, verdien ons niks minder as 'n vervloekte kruisdood nie. Ons verdien die pyn en lyding en vernedering.
Tog was Jesus gewillig om Homself aan daardie gruwelike dood te onderwerp sodat ons gered kan word. Soos die sondaar naak is voor God, so moes Jesus naak in ons plek sterf. God gebruik hierdie wreedheid van die mens om ons te red van die dood wat ons verdien.
Hy is in beheer
Pilatus skryf in selfsug die erkenning dat Jesus die Koning van die Jode is. Boonop doen hy dit in al drie die tale wat in daardie tyd gebruik is. So word dit die begin van die boodskap van Jesus se kruisiging wat die wêreld deur verkondig word.
Die soldate het weer, sonder dat hulle dit weet, presies gedoen wat Psalm 22:19 voorspel het.
As gelowiges put ons besondere vertroosting uit hierdie gebeure. Ons word hier daarop gewys dat ons te doen het met 'n God wat in beheer is van alle omstandighede en boonop het Hy ons besonder liefhet. Die wêreld word dalk gekenmerk deur selfsug, maar ons dien 'n God wat op 'n besondere manier omsien na elkeen wat in Hom glo se behoefte.
Sy liefde nie selfsug, staan voorop
Jesus se liefde word ook hier op 'n besondere manier openbaar. By Jesus se geboorte is voorspel dat daar 'n tyd sal kom wat daar 'n swaard deur Maria se siel sal gaan (Luk. 2:35). Wanneer dit nou hier by die kruis gebeur ryk Jesus uit na haar. Jesus wys vir Maria daarop dat sy in Hom meer moet sien as bloot net dat Hy haar seun is. Hy is in besonder ook haar weg tot die ewige heerlikheid. En daarin moet sy haar vertroosting vind.
Dieselfde geld ook vir ons. Ons moenie vas kyk in al die slegte dinge wat om ons gebeur nie, ons moet sien hoe God se plan besig is om tot vervulling te kom. Dit moet ons aanspoor om met meer toewyding vir Hom te leef.
Vrae tot introspeksie:
a) Wat het jou in hierdie gedeelte opgeval?
b) Hoe inspireer dit jou om anders te dink oor lyding?
Comentários