top of page

Die eienskappe van 'n goeie leier

Teks: Johannes 10:1-21

Teksvers: Joh. 10:1

In hierdie gedeelte stel Jesus die goeie leier teenoor die leier vir wie dit alleen oor sy eie gewin gaan. Ons kry dus drie goeie en slegte eienskappe van leiers.

1. Oneerlikheid vs. openlikheid

Die slegte leier kom nie deur die hek nie, maar oor die muur. Hy is oneerlik en daarom moet hy altyd geheimsinnig wees om sy oneerlikheid weg te steek.

Daarteenoor kom die goeie leier in volle openheid by die hek in en hy word deur die hekwagter ingelaat.

2. Eie gewin vs. die voordeel van ander

Vir die slegte leier gaan dit alleen oor wat die skape vir hom kan beteken en hoe hy deur hierdie verhouding ryk kan word.

Die goeie leier ken elke skaap op sy naam. Vir die goeie leier is die skape baie meer as net nog een van sy besittings. Deur 'n naam aan elkeen te gee, maak hy die verhouding baie meer persoonlik. Verder bring hy hulle eers uit om seker te maak dat nie een van hulle agter bly nie. Dit gaan dus vir hierdie goeie leier oor die skape se voordeel.

3. Eie wil vs. leiding

Die slegte leier is soos die skaapwagters wat ons in die Westerse wêreld kry. Hulle jaag die skape van agteraf aan en dikwels met honde. Hulle verwilder die skape en daarom spat die skape dikwels, uit vrees, uitmekaar.

Daarteenoor loop hierdie goeie leier vooruit en omdat die skape sy stem ken, volg hulle Hom. Hulle vertrou hom om vir hulle na die groen weiveld toe te neem.

Wanneer ons na hierdie eienskappe kyk, moet ons erken dat ons ook dikwels soos slegte leiers optree. Ons is dalk oneerlik deur net die helfte van die waarheid te vertel. Dalk gee ons iets voor wat ons nie werklik is nie en daarom wil ons nie hê dat mense moet sien wat werklik in ons hart aangaan nie.

Die begeerte om sukses in die lewe te bereik of om die meeste te baat uit ‘n situasie of die beste winskoop te kry, veroorsaak dat ons maklik op ander trap en ons doen dit solank ons net voordeel daaruit trek.

Daarom is ons slegte leiers. Ons kan nie voor loop nie, want ons eie lewe is nie 'n voorbeeld nie.

Om goeie leiers te kan wees moet ons verstaan wat Jesus vir ons gedoen het.

Hy kom deur die hek. Hy steek niks weg nie. Hy was nooit agteraf soos ons nie. Hy praat die volle waarheid en verkondig dit by elke geleentheid.

Die belangrikste is dan seker om te sien dat Jesus dit nie vir sy eie beswil doen nie. Hy dra ons belange op die hart. Hy was bereid om met sy lewe te betaal, sodat ons gered kan word. Sodat ons die voordeel kan kry.

Daarom jaag sy stem nie die skape uitmekaar nie. Sy stem getuig juis van sy liefde en genade en daarom volg sy skape Hom waar Hy ook mag gaan.

Ons kan Jesus volg, want in sy groot offer aan die kruis is dit duidelik dat Hy in beheer is. Hy sien om na ons belange. Jesus het reeds uit sy eie vir ons gesterf, sodat ons die ewige lewe kan kry.

Geloof in Christus lei ons tot groen weivelde. Volg Hom en leef in volle vertroue op Hom.

Vrae tot introspeksie:

a) Watter van hierdie goeie en slegte eienskappe sien jy in jou eie lewe?

b) Hoe kan jy jou lewe verander om ‘n beter leier te word?

273 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page