Teks: Genesis 3:8-24
Na die sondeval was die eerste ding wat die mens doen, om weg te kruip. Hulle maak vir hulle klere van blare waarmee hulle hul naaktheid voor mekaar bedek. Daarna kruip hulle weg in die tuin, want hulle probeer ook hul naaktheid voor God wegsteek.
Die ironie wat hierdie gedeelte uitlig is dat daar geen plek is waar die mens kan wegkruip nie. Alles is vir die Alsiende God sigbaar.
Dan is dit ook opvallend dat beide gevul is met vrees en spyt oor wat hulle gedoen het, maar nie een van hulle is bereid om verantwoordelikheid te vat vir dit wat hulle gedoen het nie. Inteendeel, Adam blameer die Here omdat Hy die vrou aan hom gegee het en die vrou blameer die slang. Die mens wil nie sy eie skuld aan die ongehoorsaamheid erken nie, want hoogmoed het nou sy hart gevul. Hy wil soos God wees. Hy wil in homself waardig probeer wees.
Die gevolg van hierdie hardvogtigheid is die dood. Die klimaks van al die strawwe wat die Here uitspreek is die vloek in vers 19, "Stof is jy, en jy sal weer stof word." Die mens sal sterf nes God gewaarsku het in 2:17.
Net soos Adam en Eva, is ons ook met vrees gevul. Vrees vir verwerping!! Diep binne ons besef ons dat ons nooit meer waardig kan wees nie.
Die gevolg is dat ons ook soos Adam en Eva optree. Wanneer ons iets verkeerd gedoen het, is dit vir ons vreeslik moeilik om verskoning te vra, want daardeur erken jy tog dat jy nie waardig is nie. Ons kan nie kritiek op ons werk hanteer nie, want daardie kritiek herinner ons ook daaraan dat ons nie waardig is nie.
So, hoe kan ons bevry word van hierdie verlammende effek van die sondeval?
Ons het nodig om die genade van God te sien. Ons moet sy pad van redding erken en daardie pad volg...
Die genade van die Here sien ons dadelik daarin dat die mens nie dadelik sterf nie. Die mens ontvang genade en daarom ‘n kans. Elke mens se lewe is genade tyd wat die Here aan hom gee om tot bekering te kom (vgl. Rom. 11:25).
Hier is driedubbele genade wat die Here toon waarop ons moet antwoord.
1. Eva
Dit is opvallend dat Adam die vrou hier weer 'n naam gee. In 2:23, toe die Here haar die eerste keer na Adam gebring het, het hy haar letterlik ‘mannin’ genoem. Hierdie keer (3:20) noem hy haar Eva wat letterlik ‘lewe’ beteken.
Die eerste benaming wys daarop dat die vrou uit Adam geneem is en beklemtoon die vrou se afhanklikheid van hom.
Hierdie tweede benaming is 'n reaksie op die genade wat die Here aan die mens bewys in die feit dat Hy hulle nie dadelik vernietig nie, maar dat Hy dit steeds vir hulle moontlik maak om 'n nageslag voort te bring. Adam hou vas aan die genade van lewe wat God beloof.
2. Velklere
God se reaksie op die sonde is dan om 'n dier dood te maak, sodat die mens se skande bedek kan word met velklere. In plaas daarvan dat die mens die eerste lewende wese is wat doodgemaak word, wys God sy genade in hierdie daad deur 'n plaasvervanger te vat.
Daarmee word vooruit gewys na Christus wat as die volmaakte offer, in ons plek, geoffer sal word. Sy liggaam en bloed is die volkome offer tot vergiffenis van al ons sonde.
3. Vlammende swaard
Dan word die mens ook uit die tuin verban. Waar hulle vroeër volle gemeenskap met God kon ervaar, word hulle nou uit die gemeenskap van God verban. Die uiteinde sal ewige dood wees indien hulle nie die geleentheid kry om van die boom van lewe te eet nie.
Daarom het Christus deur daardie vlammende swaard van God se toorn gegaan. Hy het die toorn op Hom geneem sodat elkeen van ons wat in Hom glo kan ingaan en van hierdie vrug kan eet om ewig te leef (vgl. Op. 22:2). So baan Jesus vir ons die pad na die ewige lewe.
Hierdie genade wys ons daarop dat ons nie verwerp is nie. Al verdien ons die ewige verdoemenis, Jesus het ons waardig gemaak om kinders van God te wees. Daarom hoef ons nie meer oorsensitief vir kritiek te wees nie, want wie ons is word bepaal deur ons verhouding met Christus en nie deur ons goeie werke nie.
Vrae tot introspeksie:
a) Wat is agter ons vrees vir verwerping en kritiek?
b) Hoe help die verlossing van Christus jou hiermee?
Comments