Teks: Genesis 27:46 - 28:22
Hierdie gedeelte vertel ons van ‘n krisis moment in Jakob se lewe. ‘n Krisis wat die Here gebruik as ‘n geleentheid.
Jakob moet wegtrek uit sy geboorteland omdat sy broer hom wil vermoor sodra sy pa dood is. Daarom vlug hy na sy oom Laban om vir ‘n tyd daar te gaan bly totdat sy broer se woede bedaar.
Jakob was op die punt om die vreemde in te gaan. Vreemde mense. Mense wat hy nie ken nie en wat hy ook nie noodwendig kan vertrou nie. Hy gaan na Haran in totale afhanklikheid van ander mense se goedgesindheid.
Dan is dit opvallend dat dit die eerste keer is wat die Here aan hom verskyn. Jakob was nog nie in ‘n posisie waar hy die hulp van die Here nodig gehad het nie, maar op hierdie stadium van sy lewe het hy dit dringend nodig en daarom verskyn die Here aan hom.
Die Here maak aan hom die belofte wat hy ook aan sy voorouers gemaak het, maar daar is iets nuuts by naamlik die belofte dat die Here by hom sal wees, hom sal beskerm en hom na die land sal terugbring (28:15). Dit is juis hierdie bemoediging wat Jakob in sy tyd van nood nodig gehad het.
Wanneer ons terugkyk in ons lewe sal ons sien dat die Here dikwels die geleenthede gebruik waar ons die meeste bewus is van ons swakheid. Dit is dan wat ons die meeste ontvanklik is om die heerlikheid van sy grootheid en almag te sien en te erken. Dit is dan wat ons weet dat ons nie uit eie krag kan voortgaan nie. Ons is afhanklik van die hoër hand van die Vader.
Die wonderlike van hierdie gedeelte is dat daar ‘n besondere bemoediging in lê vir ons wat na Christus leef.
Jakob sien hierdie leer wat op die aarde staan en aan die hemel raak. ‘n Leer waarop die engele van die Here op en af beweeg tussen hemel en aarde. Die visioen is ‘n belofte wat daarop wys dat ons weer gemeenskap met God sal hê.
Na die sondeval het God hom van die mens onttrek, maar in Christus het daar ‘n nuwe verhouding gekom. Jesus is die leer tussen hemel en aarde. Hy maak dit vir ons moontlik om weer gemeenskap met God te hê.
In sy kruisdood sien ons dat die Vader Hom verlaat het en daarom roep Hy uit:
“Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46)
Jesus is deur God verlaat, sodat ons nooit weer deur Hom verlaat hoef te wees nie. So sien ons dat hierdie belofte vir elkeen van ons in Christus ‘n realiteit word. Ons is nie alleen nie. Selfs in ons diepste nood, sal ons steeds gevul word met die heerlike nabyheid van ons Here en ons God.
Ons Bet-El is nie ‘n plek nie, maar ons liggaam. Ons liggaam is die tempel van God. Hy kom woon op ‘n heerlike wys in ons deur sy Gees. Daarom hoef ons niks te vrees nie.
Dit word bevestig deur die woorde van Psalm 37:
“Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.” (Ps. 37:3-5)
Comments