Teks: Genesis 16:1-16
Die geloof en hoop wat Abram in die vorige hoofstuk uitgespreek het, word hier beproef. Abram en Sarai se omstandighede vir die groot nageslag lyk al hoe slegter. Abram is al 86 en Sarai 76. Hulle kanse vir kinders kry, word al slegter. Die gevolg is dat Sarai innoverend raak. Sy besluit dat Abram by haar slavin moet slaap, 'n kind verwek en dan daardie kind as haar eie aanneem.
Hierdie hopelose situasie het hulle laat hoop verloor en die gevolg was dat hulle self 'n plan probeer maak het. In stede daarvan om op God te bly vertrou, besluit hulle om self in te tree. Hulle wil God help om sy werk te doen.
Ons desperate planne loop dan, net soos in hierdie geval, altyd skeef. Die spanning word beskryf met die woorde minag (4), skuld (5), saak tussen jou en my (5), sleg behandel (6), weggeloop (6).
Die buite-egtelike verhouding is nooit so rooskleurig soos dit beloof om te wees nie. Die goeie nuwe werk het net soveel probleme soos die vorige werk. Die probleme se name verskil maar net.
Die onreg, hartseer en tweespalt as gevolg van wantroue in God, is merkwaardig. Tog was ‘n ontmoeting met God die rede dat die situasie verander.
Die Here maak aan Hagar hierdie heerlike belofte dat daar nou ook uit haar 'n groot nageslag sal kom, maar dit is asof sy dit nie eens hoor nie.
Luister na haar reaksie in vers 13. Al waaroor dit vir haar gaan is dat God haar gesien het. Daardie ontmoeting met God het haar lewe verander. Die liefde en genade wat sy in hierdie Engel se oë gesien het, het gemaak dat sy die onreg wat haar aangedoen is, kon dra. Skielik het dit nie saak gemaak wat mense van haar dink of wat sy in mense se oë is nie. Al wat saak maak is wat sy in God se oë is.
Die manier hoe ons beproewings hanteer, leer ons daarom ook baie rondom ons ontmoeting met die Here. Wanneer ons gekonfronteer word met die heerlike liefde en genade wat God aan ons deur Christus bewys, dan moet die manier hoe ons situasies en omstandighede hanteer, ook verander. Daardie liefde van Christus verander 'n mens se hele uitkyk op die lewe.
Hy sterf vir ons om ons uit ons ellende te red. Daarom maak die beledigings van mense nie meer so seer soos vroeër nie, want God sien ons raak. Niks kan ons van daardie liefde skei nie.
Ons het nie nodig om onsself uit die nood te red nie want ons God is in beheer en Hy weet wat vir ons die beste is.
Vrae tot introspeksie:
a) Watter onreg, tweespalt of hartseer is daar in jou lewe wat maak dat jy wil moed verloor?
b) Hoe leer jy in hierdie gedeelte om nuut na jou omstandighede te kyk?
留言