Teks: Efesiërs 6: 10-20
Teksvers: Ef. 6: 14
Inleiding:
Daar word daagliks vuurpyle op ons afgeskiet deur ons vyand. Vuurpyle wat ons emosioneel afbreek. Ons waardigheid as mens word dikwels bevraagteken.
Dit gebeur so maklik dat 'n persoon wat deur 'n egskeiding is of gelikwideer word of sy werk verloor by die punt kom om moed op te gee met die lewe. Daardie gevoel van mislukking raak dalk net te veel. Daarom het ons hierdie tweede deel van die wapenrustings so uiters nodig.
Die tweede deel van die wapenrusting is:
Die vryspraak deur God as borsharnas
‘n Romeinse soldaat se borsharnas was gewoonlik van brons gemaak of as jy ‘n welgestelde soldaat was, van ysterringetjies. Hierdie borsharnas het meer as net die middellyf beskerm. Die soldaat is beskerm van sy nek tot by sy bobene.
Die belangrikheid van die borsharnas word beklemtoon deur sy bynaam. Soldate het hierdie borsharnas ook die “hartbeskermer” genoem! Die borsharnas het een van die belangrikste organe in die liggaam beskerm naamlik die hart. Die hart hou ‘n mens aan die lewe. Jy kan nie durf om die stryd sonder die borsharnas of dan nou die vryspraak aan te pak nie.
Indien ‘n persoon in sy hart gewond is, is die kans vir oorlewing minimaal. En geestelik is dit ook nie anders nie.
Wanneer die Bybel na die mens se hart verwys dan gaan dit oor dit wat die mens liefhet en koester. Daarom staan daar in Spreuke:
"Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe." (Sp. 4:23)
Dit wat jy in jou hart koester oor jouself. Dit wat jy glo van wie jy is, waar jy vandaan kom en waarheen jy oppad is, dit maak dat jy met hoop hierdie stryd kan voer of aan die ander kant, dat jy eintlik klaar verslaan is.
Glo jy werklik dat God jou so liefhet dat Hy bereid was om self na hierdie aarde toe te kom om jou te verlos. Om jou as sy kind aan te neem. Indien jy nie oortuig is daarvan dat jy ‘n koningskind is nie, dat jy so vrygespreek is nie, sal jy ook nie veg soos ‘n oorwinnaar nie. Jy sal vol onsekerheid wees en dit sal maak dat jy moedeloos word en maklik gewond word. Mense se op en aanmerkings sal jou maklik van stryk bring. Die geringste kritiek sal jou vir dae omkrap.
As gelowiges weet ons dat ons vrygespreek is maar daardie vryspraak is ook dikwels nie aan die Waarheid vas nie. Ons glo eerder die leuens. Daardie sonde wat jy jare terug gedoen het pla jou dalk tot vandag toe. Jy vra jouself die heeltyd af, “Hoe kan ek ‘n Christen wees nadat ek so iets gedoen het?” Mens hoor baie keer mense sê, “Ek kan myself nie eens vergewe nie.”
Maar wat gebeur eintlik wanneer ons so redeneer?
Aan die een kant meet ons God aan ons eie standaard. Jy kan nie glo dat God se genade so groot kan wees dat hy jou kan vergewe nie.
Aan die ander kant kan ons bloot nie vergewe nie omdat daai ding wat ons verloor het, vir ons belangriker geword het as God.
In die verband was daar 'n vroutjie wat geskei is by my vir berading. Sy kon net nie oor die feit kom dat haar huwelik op die rotse geloop het nie. Na ondersoek het ons egter gesien dat haar ouers se siening en opinie vir haar so belangrik was en dis die rede waarom sy nie haarself kon vergewe nie. Haar ouers se opinie was belangriker as dit wat God van haar dink.
Daarom is dit so belangrik dat ons moet terug gaan na die waarheid. Ons moet biddend gaan soek na hierdie vryspraak wat jy alleen in Christus kry.
‘n Mooi beeld om dit mee te beskryf is ‘n koeëlvastebaadjie. As die vyand jou teen so baadjie skiet, val jy onderstebo omdat die slaankrag van die patroon ontsettend groot is. Dit kan selfs beteken dat jy ‘n ribbebeen breek en die gevolg van daardie pyn is dat jy onmiddellik dink dat jy besig is om dood te gaan.
Dis eers wanneer jy nader ondersoek doen en sien dat die koeël nie deur die baadjie is nie dat jy rustig kan word en opstaan en aangaan.
Dis presies hoe die vryspraak werk. Wanneer ons geestelike vyand ons skiet met al die leuens en beledigings, dan voel dit ook vir ons dikwels of ons verslaan is. Maar dis ‘n leuen. Ons het die vryspraak as borsharnas aan! Ons is vrygespreek deur Christus! Ons is kinders van God.
Daarom kan Paulus wat die Christene op ‘n tyd in sy lewe vervolg het ook sê:
“Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.” (Fil. 3:13)
Daardie vryspraak wat ons alleen in Christus kry het Paulus se hart beskerm. Hy kon losbreek met die sonde wat agter is.
Hierdie vryspraak is die grootste skat wat ons kan kry. En dit is alleen wanneer ons hierdie vryspraak in ons harte koester dat ons uit die sonde sal wil opstaan en nuut lewe. Want ons is oorwinnaars! Ons hoef nie moedeloos in die sonde te bly lê nie. Ons het ‘n nuwe Identiteit. Ons het hierdie hoop! Ons sal die ewige lewe ontvang, want Christus het ons vrygespreek.
Maar hierdie vryspraak wat ons in Christus kry hou ook ‘n verantwoordelikheid in. Ons moet die borsharnas van vryspraak wat Christus vir ons bewerk het, AANTREK! En ons trek dit aan deur vas te glo dat ons kinders van God is. Ons trek dit aan deur ons harte vol te maak met die evangelie. Ons moet hierdie vryspraak in ons harte koester.
Dis soos 'n rugbyspeler wat sy hart uitgespeel het en terwyl hy van die veld af loop na die wedstryd sê sy spanmaat een na die ander vir hom dat hy die oorsaak daarvan was dat hulle verloor het. Teen die tyd wat hulle van die veld af is, is hy op moedverlore vlakte.
Maar dan kom daar 'n springbokspeler na hom toe en sê vir hom dat hy baie potensiaal het. As hy so aanhou speel sal hy nog 'n Springbok kan word. Wie se kommentaar sal die meeste gewig dra...? Natuurlik die springbokspeler!
Hoeveel te meer geld dit nie vir ons geloof nie. Jesus kom na ons toe en sê dat ons oorwinnaars in Hom is. Ons is vrygespreek!! Wat maak dit dan saak wat mense van ons sê of dink. Al wat saak maak is dat ons nou so moet leef dat Jesus deur ons lewe verheerlik word. Ons moet Hom eer vir dit wat Hy vir ons gedoen het.
Slot:
Daar is baie pyle wat in hierdie wêreld afgevuur word om ons hart te besoedel met leuens. Daarom moet ons ons hart vol maak met die vryspraak wat ons in Christus ontvang het. Dit moet ons hartsbegeerte wees om Christus so in sy heerlikheid en in sy genade te sien want Hy alleen kan ons laat opstaan wanneer ons gestruikel het.
Ons harte moet daaraan vashou dat Christus vir ons aan die kruis betaal het vir ons sonde. Ons moet daaraan vashou dat Hy reeds vir ons die oorwinning behaal het. Ons moet daaraan vashou dat ons konings kinders is.
Leef met 'n hart wat beskerm is deur hierdie vryspraak in Christus.
Kyk gerus by hierdie skakel na die ander dele van die wapenrusting: https://www.pdebruyn.com/wapenrusting
Comments