top of page

Hou vas aan die belofte

Teks: Genesis 24:1-10

Wat hier opval is Abraham se toegewydheid aan hierdie belofte wat die Here aan hom gemaak het. Die rede waarom Abraham sy slaaf wegstuur is juis sodat Isak nie met 'n Kanaänietiese meisie trou en dat die belofte dan oor 'n paar geslagte tot niet gaan oor die heidense vrou nie.

Dit laat mens dink oor ons eie doopbelofte. Neem ons dit nog so ernstig op? Besef ons as ouers dat ons ook 'n verantwoordelikheid het om ons kinders te onderrig en te lei? Praat ons met hulle oor hul toekomstige huweliksmaats en ander belangrike keuses wat nog op hulle wag.

Om deel van hierdie belofte te kan wees raak maklik vir ons vaag en tweedehands. Daar is soveel ander lekker dinge in hierdie lewe om na te jaag en deel van te wil wees dat ons maklik van hierdie belofte vergeet.

Die gevolg is dat ons dan eerder die beloftes van geld, mag en vreugde najaag. Die belofte van die doop dra dan glad nie die gewig wat dit veronderstel is om te dra nie.

As gelowiges is dit belangrik dat ons die heerlikheid van hierdie belofte moet verstaan. Die belofte waaraan Abraham hier dink is, "Ek gee hierdie land waar jy nou is, aan jou nageslag." (Vs. 7).

Hierdie land wys natuurlik vooruit na die koninkryk van God. Ons kan nou terug kyk en sien dat God 'n baie heerliker koninkryk vir ons in gedagte het. Jesus kom sterf vir ons sodat ons die ewige lewe saam met Hom kan ingaan. 'n Land wat oorloop van lewe. 'n Land waar daar nie meer trane en hartseer sal wees nie, want die dood is finaal oorwin.

Verder is dit ook interessant dat die belofte gemaak word met 'n intieme aanraking. Dit was die gebruik van daardie tyd om op hierdie manier ‘n belofte te maak. Jakob het ook so belofte met Josef gemaak toe hy hom vra om hom in Kanaän te gaan begrawe (Gen. 47:29).

Die heerlike en intieme aanrakings sien ons ook in Christus wanneer die God van die heelal ‘n mens word en onder ons kom woon. Hy staan nie op ‘n afstand en toekyk nie. Hy kom in hierdie sondige wêreld in en kom sterf vir ons. Daardeur bevestig Hy aan ons dat Hy ons red!

Ons moet vashou aan hierdie belofte deur dit met alles wat in ons is na te jaag en aan te gryp. Indien hierdie belofte nie vir ons kosbaar is nie, hoe kan ons van ons kinders verwag om dit passievol na te jaag.

Dra die kosbaarheid van hierdie belofte aan jou kinders oor deur met jou lewe te wys dat dit vir jou belangrik is en wys hulle gedurig op die heerlikheid daarvan.

Vrae tot introspeksie:

a) Hoekom dink jy verag baie kinders deesdae hierdie doopbelofte?

b) Hoe kan jy op ‘n praktiese wyse aan jou kinders wys dat hierdie belofte van God aan jou vir jou van onskatbare waarde is?

Komentarai


©2020 by Paul Jacobus de Bruyn. Proudly created with Wix.com

bottom of page