Teks: Genesis 48:1-22
Soos Isak sy seun Jakob voor sy dood geseën het, so seën Israel nou sy seuns kort voor hy sy laaste asem uitblaas.
Hy begin dan ook by Josef, omdat Josef die oudste seun van sy liefling vrou, Rebekka was. Dit is ook duidelik dat Israel vir Josef as eersgeborene hanteer in die feit dat sy nageslag ‘n dubbel deel kry.
Dit is dan die rede waarom Israel sê dat hy vir Efraim en Manasse aanneem as sy eie kinders. Hulle verteenwoordig vir Josef tussen al die kinders van Israel.
Dit kon maklik gebeur dat Josef se aansien, voorspoed en mag sy lewe oorneem. Hierdie aardse goed kon maak dat hy perspektief verloor op die groter prentjie. Daarom is dit wat Israel hier doen uiters belangrik.
Israel wys Josef op die belofte wat God aan hom en sy nageslag gemaak het en dat dit die toekoms is wat hulle moet najaag. Die eindpunt is nie die kospotte van Egipte nie, maar die beloofde land wat God aan hulle nageslag sal gee.
Dit gebeur so maklik dat ons leef uit die voorspoed wat ons in hierdie lewe beleef en najaag. Hierdie perspektief veroorsaak dat ons nie bereid is om iets agter te los nie. Daarom ook dat ons in opstand kom teen God wanneer die lewe nie verloop soos wat ons beplan het nie.
Die gelowige leef nie vir die voorspoed van nou nie, maar in die hoop van die beloftes wat God aan ons maak. Daarom staan daar:
“Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.” (1 Pet. 1:13)
Daardie volle heerlikheid van die genade wat ons in Christus sal ontvang, is baie beter as al die besittings wat ons in hierdie lewe bymekaar kan maak. Besittings vergaan, maar die genade wat ons in Christus ontvang strek oor al de eeue tot in die ewige.
Vrae tot introspeksie:
a) Dink aan die rykdom wat jy in Christus het. Noem ‘n paar aspekte van daardie rykdom.
b) Hoe kan jy meer vashou en leef vanuit die beloftes wat die Here aan jou maak?
Kommentare