Teks: Johannes 16:16-24
Teksvers: Joh. 16:24
Jesus leer sy dissipels wat die toekoms inhou. Hulle sien Hom nog net 'n kort tydjie. Hy sal dan doodgemaak word, maar wanneer Hy uit die dood opstaan, sal hulle Hom weer 'n kort tydjie sien.
Die dissipels het dit natuurlik nie verstaan nie, omdat hulle nie geweet het wat vir Jesus voorlê nie. Daarom verduidelik Jesus dit verder deur daarop te wys dat die dissipels in hierdie tyd hartseer en bedroef sal wees terwyl die wêreld bly sal wees. Dit wat vir die dissipels diepe droefheid veroorsaak, wek groot blydskap in die wêreld se hart.
Die wêreld is bly dat Jesus doodgemaak word, want op die manier voel hulle soos oorwinnaars. Hulle dink dat hulle in beheer van omstandighede is en op die manier heerskappy kan voer oor alles en almal.
Dit is ook vandag nie anders nie. Ons ervaar die pyn en leed van 'n wêreld wat dink dat hy god is. Hierdie wêreld veroorsaak die dood, omdat die wêreld dink dat hy in beheer is. Hy maak dood soos hy goeddink.
Ons ervaar hierdie diepe seer van die onregverdigheid van die lewe. Die onreg wat onskuldige mense aangedoen word en hoeveel te meer in Jesus se geval. Die mees regverdigste mens word as vervloekte gekruisig.
Dit wat ons in hierdie lewe ervaar is genoeg om enige mense van alle vreugde te beroof.
Daarom gee Jesus aan die dissipels, en aan ons, hierdie hoop. 'n Heerlike vooruitsig wat ons blydskap volkome sal maak. Die wonderlike van hierdie blydskap is dat niemand dit van ons kan wegneem nie (vgl. Vs. 22).
Wat is hierdie blydskap?
1. Ons ontvang lewe
Jesus gebruik die metafoor van 'n vrou wie se tyd gekom het om 'n kind in die wêreld te bring. Daardie geboorte is pynvol, maar die gedagte aan die nuwe mensie wat jy in jou arms gaan vashou, maak dat die pyn die moeite werd is.
Netso het Jesus se dood, wat soos daardie baringsproses is, ook vir ons nuwe lewe geskenk. Hierdie nuwe lewe word dan ook volkome deur die Heilige Gees wat op ons uitgestort is. Hy maak ons nuut van binne.
Daardie nuwe lewe wat ons in ons ervaar sal soveel heerliker wees as die pyn van hierdie lewe en dit maak hierdie aardse pyn draaglik (vgl. 2 Kor. 4:17).
2. Volle gemeenskap met God
Tot voor Jesus se opstanding, moes die mense deur die priester tot God bid. Priesters wat self swak en sondig was en dikwels 'n groter hindernis was as iets anders.
Na die verlossingsprys wat in Jesus betaal is, kan ons direk tot die Vader in gebed nader deur Jesus se naam aan te roep.
Ons gaan nie na God omdat ons sonder sonde is nie, maar omdat Jesus as die volmaakte hoëpriester vir al ons sonde betaal het. Ook al ons vrae en onsekerheid sal deur die Woord en Heilige Gees beantwoord word.
Hierdie heerlike verhouding wat ons met die Vader kan hê, skenk aan die gelowige groot blydskap ten spyte van die pyn wat hy in hierdie lewe ervaar.
Vrae tot introspeksie:
a) Wat maak dat jy soms van jou blydskap beroof word?
b) Waarom kan niemand ons van die blydskap wat ons in Christus het, beroof nie?
Comments