Teks: Johannes 4: 43-54
In die vorige gedeelte het ons gelees van die groot klomp Samaritane wat tot geloof gekom het. Jesus kyk na hulle almal en sê dan vir sy dissipels:
“Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes.” (Joh. 4:35)
In plaas daarvan dat hulle net deur Samaria gereis het, het hulle sommer twee dae daar gebly om hierdie oes te kon insamel.
Wanneer Jesus en die dissipels in Galilea kom, beleef hulle 'n antiklimaks. Jesus se eie mense wou Hom nie aanvaar nie. Vir hulle gaan dit nie oor Hom as Messias nie, maar oor die wonderwerke wat Hy kan doen. Hulle wil die wonderwerke hê en nie vir Hom as Messias nie. Daarom sê Hy:
“As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.” (Joh. 4:48)
Sy eie mense se harte was hard en hulle wou Hom nie aanvaar nie.
Dan kom hierdie man, wie se seun besig is om te sterf, na Jesus toe en vra dat Hy sy seun moet genees. Ook by hom sien Jesus hierdie kleingeloof. Ook hy glo in Jesus slegs op grond van die wonderwerke en nie op grond van die feit dat Jesus die Koning is nie (vs. 48). Verder pleit hy ook by Jesus om sy seun gesond te maak – nog voor hy dood is. Hy besef dus nog nie dat Jesus ook mag oor die dood het.
Dit is soos ‘n pa wat winkel toe gaan en vir sy kind vra om saam te ry. ‘n Kind se reaksie is gewoonlik om vir die pa te vra wat hy kan kry, indien hy sou saamgaan. Maar soos daardie kind groter word, verander sy perspektief. Later gaan dit nie meer oor wat hy kan kry nie, maar bloot om by sy pa te wees. Hy gryp dan elke geleentheid aan om saam met sy pa te kan wees.
Ons is ook nog dikwels soos kinders in die geloof. Ons is geneig om Jesus te gebruik om al ons slegte situasies op te los in plaas daarvan om Hom te sien vir wie Hy is. Hy is ons Verlosser. Hy het ons ontsettend lief!!
Dis dalk soos die Hebreërs skrywer sê:
“Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig. ’n Mens moet julle met melk voed en nie met vaste kos nie.” (Heb. 5:12)
Om weg te kan beweeg van melkkos, is dit nodig om te sien hoe Jesus hierdie man gehelp het. Jesus het nie aan sy versoek toegegee nie, want Hy gaan nie saam met die man na sy huis nie. Nee, hy stuur hom alleen terug huistoe.
Kan jy dink wat in daardie man se gedagtes moes opspring toe hy sy mense op ‘n afstand sien aankom. Al die vrae….“Is my seun dood?”….“Is Jesus werklik in staat om my seun te genees?”
So breek Jesus die wantroue in hierdie man se hart af.
Soveel te meer breek Jesus ook die wantroue in ons eie harte af deur nie altyd vir ons te gee wat of wanneer ons vra nie.
Die evangelie wys vir ons wat Jesus wel vir ons gee, en dit verander ons lewens.
Hy gee vir ons Sy lewe! Die kruis is die bewys dat Hy ons belange op die hart dra. Ons moet Hom net vertrou as ons Verlosser. Hy weet wat vir ons goed is, al lyk dit soms vir ons of Hy nie ons gebede verhoor nie.
Moenie iemand soek wat vir jou kan gee wat jou hart begeer nie, dien Christus wat jou belange op die hart dra en jou so liefhet dat Hy selfs vir jou gesterf het.
Comments