top of page
Writer's pictureDr. PJ de Bruyn

Leef met integriteit! - 9de gebod

Teks: Jakobus 3:1-12

Inleiding:

Volgens ‘n studie wat gedoen is, is dit waarskynlik dat ‘n persoon in ‘n gesprek wat ongeveer tien minute duur, ten minste drie keer jok[1].

Daarom is ons, wanneer dit by die 9de gebod kom, baie meer geneig om hierdie sonde oor te sien. Ons jok dikwels wanneer mense ons vra hoe dit gaan en ons verdraai die waarheid soos dit ons pas.

M.a.w. ons leef nie lewens van integriteit nie, want ons lewens getuig nie van die waarheid nie.

Kom ons kyk na hierdie gebod deur eers te kyk na wat integriteit is!

1. Wat integriteit behels

Integriteit gaan daaroor dat jou omstandighede nie bepaal, wie jy op daardie oomblik is nie.

Jy sal byvoorbeeld dieselfde persoon wees voor arm en ryk, voor geletterd en ongeletterd, voor wit en swart. Jy sê ook nie iets vir hierdie persoon en dan doen jy iets totaal anders voor iemand anders nie. Jy sal ook nie iets sê, maar dan die teenoorgestelde in jou gedagtes dink nie.

Miskien het dit al met jou gebeur dat jy met ‘n persoon praat en dan stem hy volkome met jou saam en dan wanneer jy in ‘n vergadering kom, dan kan jy nie glo dat dit dieselfde persoon is met wie jy die hele saak bespreek het nie.

Of jy is dalk die vriendelikste persoon in ‘n sosiale opset, maar by die werk is almal bang vir jou.

Dis waaroor integriteit gaan. Het ons integriteit?

‘n Persoon van integriteit, leef volgens een standaard en dis die waarheid en dis ook waartoe hierdie 9de gebod ons roep.

Jakobus sluit daarby aan, want sy doel is juis om sy gehoor te bring tot volle geestelike rypheid. In hoofstuk drie leer hy ons dat daar ‘n direkte verband is tussen jou geestelike volwassenheid en die manier hoe jy jou tong gebruik[2].

Hy begin deur met die leermeesters te praat en dan waarsku hy hulle dat hulle strenger beoordeel sal word as ander.

Die eenvoudige rede daarvoor is dat ‘n leermeester se lewe die krag van die evangelie wat hy verkondig, totaal kan vernietig indien sy lewe nie daarmee ooreenstem nie. Indien hy nie integriteit het nie, sal hy iets leer met sy tong, maar sy lewe sal iets totaal ander wys en so sal sy lewe afbreek doen aan die evangelie wat hy verkondig.

Dan gebruik Jakobus ‘n klomp metafore om die mag van die tong te illustreer. Hy begin met die positiewe rol van ‘n tong wat beheer word[3]. Daarvoor gebruik hy die stang en roer metafoor.

Beide die stang en die roer is klein voorwerpe wat ‘n groot en kragtige voorwerp stuur. Die perd se krag en energie word deur die stang gestuur om sy werk te verrig.

Die roer van die skip word gebruik om ‘n hele boot in die rigting te stuur wat vir almal aan boord tot voordeel is. Indien daar nie ‘n roer is nie, sal die boot teen die rotse loop en tot die dood van almal aan boord lei.

Net so is dit ook wanneer die waarheid die tong beheer. Die waarheid gebruik al die krag tot sy beskikking om die persoon in liefde op te bou. Dit het ‘n positiewe uitwerking.

Die metafoor van die vuur word dan gebruik om te wys wat gebeur wanneer die tong nie beheer word nie. So tong vernietig sover as wat hy gaan. Hy kraak af en verneder en beswadder en lieg en bedrieg.

Dis ‘n tong wat gekenmerk word deur sy gespletenheid. Uit so mond kom goeie en slegte dinge. M.a.w. daar is geen integriteit nie, want uit dieselfde mond wat God loof en prys word die mense wat na die beeld van God geskape is ook gevloek.

Hierdie gebrek aan integriteit hoort nie by ‘n gelowige nie, want ‘n gelowige se lewe moet deur die waarheid gekenmerk word. En onthou, die waarheid is deel van God se wese. Daarom staan daar: “Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.” (1 Sam. 15:29)

Omdat God nie soos die mens vol sonde is nie, daarom is die leuen nie deel van sy karakter nie. Daarom kan Jesus ook sê:

“Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom.” (Joh. 18:37)

Jesus is ook self die waarheid en daarom sê Hy dat sy Woord die waarheid is (vgl. Joh. 17:17).

Net so word daar ook na die Heilige Gees verwys as die waarheid (Joh. 14:17) en daarom kan ons sê dat die drie-enige God vol van die waarheid is[4]. Vol integriteit!

Die probleem waarmee Jakobus ons hier konfronteer, is dat ons die oortreding van die 9de gebod gering ag. Ons struikel baie in hierdie opsig[5]. Ons lewens word nie gekenmerk deur hierdie waarheid nie. Dis ‘n aanhoudende stryd in ons wat ons integriteit verswak.

Dit bring ons…

2. Die vervalste vorm van integriteit – skynheiligheid

Die Griekse woord wat met “skynheilig” vertaal word, is dieselfde woord wat gebruik word om na akteurs te verwys, want ‘n goeie akteur maak of hy iets of iemand is, wat hy nie werklik in sy wese is nie[6].

Indien die karakter wat hy verteenwoordig, hartseer is, dan moet hy met sy hele wese voorgee dat hy hartseer is. Net so moet hy dalk ook voorgee dat hy ‘n sagte vriendelike persoon is, terwyl hy eintlik van nature ‘n wrede en ongeskikte persoon is.

Daarom, wat ‘n akteur met sy uiterlike voorgee, is glad nie wat hy in sy hart is nie en dis presies wat skynheiligheid is. Dis wanneer ons in ‘n seker situasie en voor sekere mense iets voorgee, wat ons nie voor ander en in ander situasies is nie.

Hierdie skynheiligheid wys dat die waarheid nie deel van ons karakter is nie. Ons gee voor. Ons vertel leuens en nog meer... ons leef ‘n leuen!

Ons sien hierdie leuens in elke faset van die lewe.

In jou werksituasie kan jy dalk die boeke so bietjie aanpas sodat jou prestasie beter lyk as wat dit werklik is. Of vir jou vriend vertel jy eerder nie die waarheid oor die fout wat hy gemaak het nie, want jy is bang dat jy sy gevoelens sal seermaak.

Vir ons kinders kan ons weer so maklik beloftes maak en dit dan nie nakom nie. Of ons sê vir hulle dat dit werklik belangrik is om ‘n geloofslewe te hê, maar ons doen self nie Bybelstudie nie en gaan net so af en toe kerk toe en ons laai hulle net by die katkisasie af.

Ander kere sal ons weer net die helfte van die waarheid vertel, of selfs dalk die belangrike feite sommer heeltemal verdraai[7].

Aaa, maar nou kan iemand vra: “Wat van skinder? Dis mos die waarheid van iemand.”

Daardie skinderpraatjies is dalk die waarheid, maar dit word op ‘n negatiewe manier gebruik en die gevolg daarvan is dat die persoon sleg gemaak word.

In die verband sê Petrus:

“Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.” (1 Pet. 4:8; vgl. ook 1 Kor. 13:7).

Die waarheid het altyd ten doel om die naaste in liefde op te bou. Dis mos skynheilig om te sê dat jy jou broer liefhet, maar jy maak hom sleg deur skinderpraatjies.

Daarom kan ons sê dat dit die doel van leuens is om mense af te breek en sleg te laat lyk. Leuens het nie ten doel om mense se reputasie te beskerm nie, maar om dit te vernietig[8].

Hierdie verwoestende effek wat leuens het, sien ons op Facebook of op Twiter waar vriende dink dat dit goed is om daardie vriend se sonde aan die hele wêreld te vertel. Hy het my mos seer gemaak.

Ons sien dit in die hof waar mense sleg gemaak word al is hulle onskuldig en ons sien dit selfs in ons alledaagse gesprekke waar mense beswadder word[9].

Jakobus beskryf hierdie vernietigende effek van leuens met baie effektiewe metafore[10].

In vers 6 vergelyk hy die tong met ‘n veldbrand. Al wat nodig is om ‘n hele veld af te brand, is een ongekontroleerde vonk. So is daardie skerp woord, of negatiewe opmerking of halwe waarheid ook. Dis ‘n vonk wat afbreek en vernietig.

Maar die tong besmet ook die hele liggaam. Tydens die Covid pandemie het ons elke nou en dan ons hande ontsmet met sanitizer, want ons het geweet dat daardie een mikroskopiese virus die hele liggaam kan besmet. Dis hoe die tong is. Dit maak nie saak watter mooi gawes jy het nie. Dit maak nie saak hoe groot jou liefde is nie. Indien jy nie jou tong beheer nie, besmet dit jou hele liggaam. Wat jy eenkeer in woorde gesê het of in ‘n WhatsApp boodskap gestuur het, kan jy nie weer ongedaan maak nie[11].

En in vers 8 word die tong beskryf as ‘n rustelose kwaad, vol dodelike gif. Dit herinner aan die duiwel wat beskryf word as ‘n brullende leeu wat opsoek is na iemand om te verslind. So is die ongetemde tong ook vinnig om homself te verdedig, vinnig om ander aan te val en gretig om hulle aan homself te onderwerp. En hy doen dit met halwe waarhede soos om byvoorbeeld vir iemand te sê: “Jy is altyd so…” terwyl dit glad nie altyd of nooit is nie. Dis woorde wat met opset gekies word om te vergiftig of seer te maak.

So, die beginsel wat hier beklemtoon word, is dat leuens vernietigend is.

Maar waarom is dit vir ons so moeilik om te erken dat ons verkeerd is, of waarom is dit soms so moeilik om net die waarheid te praat? Ons is mos na die beeld van God gemaak en daarom is die waarheid tog veronderstel om deel van ons wese te wees.

Die Bybel gee vir ons die antwoord. In die Woord van die Here leer Hy ons dat die sondeval daardie beeld in ons vernietig het.

Met die sondeval is ons naam aangetas. Ons is nie meer waardig nie en omdat ons nie waardig is nie, gebruik ons die leuen om ons groter te laat lyk as wat ons werklik is. Ons gebruik die leuen om al ons tekortkomings toe te smeer.

Daarom jok die alkoholis oor dit wat hy drink omdat hy nie wil erken dat hy ‘n probleem het nie. Hy is nie bereid om sy nood te erken nie.

Indien iemand jou gevra het om iets te doen en jy het heeltemal vergeet daarvan, jok jy deur te sê dat jy nou rééds besig is daarmee, want jy wil nie hê dat die persoon moet weet dat jy vergeet het nie. Dan dink hy dalk dat jy nie die saak belangrik ag nie.

Ons grootste vrees is dat mense die waarheid sal sien en ons op grond van daardie waarheid, nie sal liefhê nie. Nie meer waardig sal ag nie. Daarom kies ons eerder om skynheilig te wees… Ons vervals die integriteit!

3. Die krag om met integriteit te leef

Elke mens smag daarna om erkenning te kry. Om te kan hoor, “Mooi so, jy is ‘n goeie en getroue slaaf…” Dis hoe die Here ons gemaak het.

Maar baie sielkundiges sal vir jou sê dat dit nie waar is nie. Al wat nodig is, is dat ek net positief oor myself moet bly. Al wat tog saak maak is hoe ek oor myself voel, maar dis eenvoudig nie genoeg nie.

Dink so daaraan. Hoekom is dit so sleg wanneer iemand jou werk kritiseer? Dis omdat die evaluering van buite onsself, baie swaarder weeg as wat ek persoonlik daarvan dink.

Ek kan so mooi sing soos wat ek wil, maar indien ander nie daarvan hou nie, sal my musiek eenvoudig nie verkoop nie.

Iemand anders moet vir my sê dat ek kosbaar is, of dat ek aanvaarbaar is of dat ek mooi is voor ek dit werklik in my hart sal glo, want God het ons gemaak as deel van ‘n gemeenskap. Maar deur sonde isoleer ek myself van daardie gemeenskap.

Dis een van die groot redes waarom ons baie keer jok. Deur te jok, probeer ons op ‘n desperate manier vir iemand wys dat ons waardig, aanvaarbaar en mooi genoeg is. Ons is bang vir die isolasie wat ons verdien.

Daarom hou ons deur leuens iets voor, wat ons nie in ons wese is nie. Ons jok net sodat iemand nie kwaad is vir my nie. Net sodat iemand anders nie dink dat ek nie betroubaar is nie. Net sodat ek nie uitgesluit word nie.

Ons dink dat leuens ons eer en aansien sal herstel. Ons soek in leuens ons verlossing!

Maar God het vir ons ‘n beter oplossing.

Hy stuur sy enigste Seun, Jesus Christus na die aarde toe om die waarheid weer in sy koninkryk te vestig. Daarom sê Jesus:

“Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6)

Niemand kan deel kry aan hierdie gemeenskap, behalwe deur Jesus nie. Jesus is die nuwe weg waardeur ons naam herstel word. Hy maak ons waardig. Hy is alles wat ons nodig het om van God die Allerhoogste te hoor, “Mooi so goeie en getroue dienskneg, kom in en deel in my vreugde…”

Ons het nie meer die leuens nodig om ons groter te laat lyk as wat ons is, in die hoop dat ons aanvaarbaar sal wees nie.

Nee, Jesus is die waarheid. En Hy gee aan ons die Gees van die waarheid om in ons te kom woon. Die Gees is soos ‘n toom vir ons tong[12]. Deur die Gees kry ons die krag om ons tong te beheer, want Hy wys ons dat ons waardig gemaak word deur die verlossingswerk van Christus. Nie deur leuens nie!

Die Heilige Gees wys ons dat dit nie meer nodig is om ons eie naam te beskerm nie, Christus doen dit en Hy doen dit deur ons skoon te was met sy bloed. Hy gee ons ‘n nuwe naam naamlik kind van God.

Daarom staan daar:

“Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.” (Rom. 8:15-16)

Die Gees getuig hierdie waarheid in ons hart. Dis die erkenning en bemoediging en aanvaarding van buite onsself wat ons nodig het.

Dis hierdie getuienis wat veroorsaak dat ons nie meer slawe van leuens is nie. Ons het nie meer nodig om oor onsself te wil jok nie, maar dit maak ook dat ons ons naaste se naam wil beskerm soos Christus my naam beskerm het.

Ons sal net mense met integriteit wees indien ons gevul is met die heerlike waarheid rondom ons verlossing in Christus.

Dan is dit nie meer vir ons nodig om ander met ons woord te wil vergiftig nie. Selfs al maak hulle ons seer met hulle halwe waarhede, sal ons genoeg van hierdie getuienis van die Gees in ons hê om in daardie waarheid te leef. Ek is kind van God, dit maak nie saak as mense my beswadder nie. Ek luister veel eerder na die getuienis van die GEES!

Slot:

Moenie ‘n slaaf wees van die leuens nie! As gelowiges is ons bevry deur die waarheid.

Ons leef in die kragtige wete dat ons kinders van God is, want in Jesus is ons gereinig van al ons ongeregtighede.

Kom ons leef met integriteit omdat ons aan hierdie waarheid vashou!

[1] https://www.scienceofpeople.com/training/lie-detection/ [2] https://www.desiringgod.org/messages/the-tongue-the-bridle-and-the-blessing-an-exposition-of-james-3-1-12 [3] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 3:3). Christelike Uitgewersmaatskappy. [4] De Bruyn, P. J. (1993). Die Tien Gebooie. Midrand: Varia Uitgewers. [5] Die brief van Jakobus (p. 3). (1998). N G Kerk-Uitgewers. [6] Zodhiates, S. (2000). In The complete word study dictionary: New Testament (electronic ed.). AMG Publishers. [7] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Ex 20:16). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [8] Hannah, J. D. (1985). Exodus. In J. F. Walvoord & R. B. Zuck (Eds.), The Bible Knowledge Commentary: An Exposition of the Scriptures (Vol. 1, p. 140). Wheaton, IL: Victor Books. [9] De Bruyn, P. J. (1993). Die Tien Gebooie. Midrand: Varia Uitgewers. [10] https://www.desiringgod.org/messages/the-tongue-the-bridle-and-the-blessing-an-exposition-of-james-3-1-12 [11] Die brief van Jakobus (p. 3). (1998). N G Kerk-Uitgewers. [12] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 3:5). Christelike Uitgewersmaatskappy.

25 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page