Teks: Genesis 12:1-9
Hierdie is die verbond wat God met Abram en sy nageslag gesluit het. Hierdie verbond word herhaal in 15:18-21 en 17:1-21 en dan word die verbond ook herbevestig aan Isak 26:2-5 en aan Jakob 28:10-17, want dit is 'n blywende verbond.
Dit is egter belangrik om te sien dat daar in die vorige hoofstuk genoem word van die ramp wat Abram en Sarai getref het. Hulle was kinderloos. Dit is ook teen die agtergrond van daardie onthulling dat die Here hierdie belofte van uitkoms aan Abram gee.
Hy moet alles wat vir hom bekend is agterlaat en na die land toe gaan wat die Here vir hom sal aanwys. Sy gehoorsaamheid hieraan sal dan tot gevolg hê dat hy 'n groot nageslag sal ontvang.
Wat hierdie gedeelte aan ons openbaar is dat teleurstellings relatief is. Die teleurstelling daarvan om kinderloos te wees het God as geleentheid gebruik om vir Abram en sy nageslag 'n nuwe begin te maak.
Daarom is dit belangrik om te kyk hoe ons soortgelyke teleurstellings in ons lewe hanteer. Sien ons dit as terugslae, of besef ons dat die Here ook dit gebruik in sy raadsplan?
Hoe ons teleurstellings hanteer, sê baie van ons eie ambisie en gode in ons lewens. Elke teleurstelling moet ons daaraan herinner dat ons nie net moet fokus op ons eie drome en die najaag daarvan nie. Dit wat God vir ons lewe beplan is soveel beter!
Ons kan vandag terugkyk en sien hoe hierdie belofte op 'n besondere manier vir ons in Christus tot vervulling gekom het. Ons het daarom niks om oor teleurgestel te wees nie. God voorsien aan ons ryklik in alles wat ons nodig het.
Hierdie verbond bevat vier elemente wat vir ons groot troos gee in tye van teleurstelling.
1. Saad.
Hier gaan dit oor 'n nageslag, maar nog belangriker, Christus word uit hierdie nageslag gebore. Die Christus wat ons kan red van die verderf.
2. Land.
In hierdie gedeelte gaan dit spesifiek oor die land Kanaän, maar die dieper betekenis is God se koninkryk. As Nuwe Testamentiese gelowiges is ons burgers van God se koninkryk (vgl. Fil. 3:20). Ons is oppad na die ewige lewe waar ons ewig in God se koninkryk en voor sy aangesig sal leef.
3. Nasie.
Uit alle volke, tale en nasies sal hierdie volk tot stand kom. Paulus gebruik juis hierdie woorde om te beklemtoon dat almal wat deur geloof vashou aan Christus, deel kry aan hierdie verbond (Gal. 3:8). Elke gelowige is deel van hierdie volk wat eendag voor die troon van God en van die Lam sal staan en sy naam bely (vgl. Op. 7:9-17).
4. Seën.
Die grootste seën wat die gelowige kan ontvang, is dat God by Hom sal wees. Die wonderlike van ons as Nuwe Testamentiese gelowiges, is dat God op 'n besondere manier deur die Heilige Gees by ons is. Dit is die Gees wat ons lei, beskerm, bemoedig en versterk.
So sien ons dat ons ook vandag deel het aan hierdie verbond wat God duisende jaar gelede met Abraham gesluit het. ‘n Verbond wat deur die doop aan elkeen van ons bevestig word en wat elke teleurstelling laat verander in ‘n heerlike hoop.
Vrae tot introspeksie:
a) Wat het jou in hierdie gedeelte opgeval?
b) Hoe vertroos hierdie verbond jou in jou lewe as gelowige?
Comments