Teks: Genesis 6:5-22
Hierdie gedeelte sluit in ‘n groot mate by vers 1-4 aan omdat dit die totale verdorwenheid van die mens beskryf.
In vers 5 word hierdie verdorwenheid ook beskryf deurdat ons daarop gewys word dat die mens sy lewe lank net slegte dinge bedink. Sy lewe draai alleen om homself. Daarom doen die mens wat hy goeddink en nie wat God wil nie.
Dit is dan ook presies wat Noag anders gemaak het. Noag was nederig en het homself onderwerp aan die wil van God. Hy het in God as die Skepper geglo en Hom volkome vertrou. Hy het nie op sy eie wysheid staatgemaak nie, maar op die wysheid van God.
As gelowiges moet ons ook ons eie lewens ondersoek, want hierdie gedeelte wys ons iets van wat ons sonde aan God doen.
Ons sonde veroorsaak diepe pyn vir God.
In vers 6b staan dat God diep gegrief was oor die sonde van die mens. Daardie woord “Grief”, is presies dieselfde woord wat gebruik word in Genesis 3:16 & 17 om te verwys na die pyn waarmee die vrou kinders in die wêreld sal bring en die swaarkry waarmee die mens sy brood sal verdien.
Daarom mag ons nooi sonde ligtelik opneem nie.
Deur die gebruik van hierdie woord, word ons daarop gewys dat die pyn en swaarkry wat ons beleef as gevolg van die sondeval, ook God se pyn en swaarkry geword het.
Die wonderlike hiervan is dat ons nie ‘n apatiese God aanbid nie. Hy laat ons nie oor aan ons eie ellende nie. Hierdie is maar die begin van God wat die pyn en swaarkry van die mens op Homself geneem het.
Die volkome prys van swaarkry en pyn wat Hy in ons plek dra, is aan die kruis. So reken Hy eens en vir altyd af met die mens se sonde wat die mens oor homself gebring het.
Daarom moet ons uit dankbaarheid ons hele lewe in gehoorsaamheid aan die Here toewy.
Vrae tot introspeksie:
a) Watter antwoord kry jy in hierdie gedeelte op die feit dat Dawid in Psalm 51:6 sê dat hy alleen teen God gesondig het, dit terwyl hy owerspel met Batseba gepleeg het en haar man vermoor het?
b) Watter vertroosting vind jy in hierdie gedeelte?
Comentarios