Teks: Jakobus 1:19-27
Inleiding:
In die vorige perikoop is gekyk na wedergeboorte wat die Here aan ons as gawe skenk. Dis ‘n gawe wat aan ons nuwe lewe gee. ‘n Lewe van toewyding aan God. Hierdie gawe ontvang ons deurdat ons die woord bestudeer.
In hierdie gedeelte beklemtoon Jakobus dat dit nie genoeg is om alleen na die woord te luister nie. Ons dade moet ook bevestig dat ons in ‘n persoonlike verhouding met die Here staan.
Jakobus druk dit sterk uit in vers 22 deur ons daarop te wys dat indien ons net na die woord luister en ons lewes verander nie, dan is ons besig om onsself te bedrieg[1]. Ons kan nie kerk toe gaan en Bybel lees en steeds doen wat ons sondige begeertes wil nie.
Daarom gaan hierdie gedeelte nou oor dit wat ons verhinder om te verander. Daarom sal ons eers kyk na die sonde wat ons verhinder om ons lewens te verander. Daarna sal ons kyk na liefde wat ons krag gee om ons lewens te verander.
1. Die sonde wat verhinder dat ons verander
Jakobus wys ons daarop dat, een van die redes waarom ons dalk die woord van die Here bestudeer en nie in ons gedrag verander nie, ‘n kwaadwillige en hoogmoedige gees is.
Hy wys ons in vers 19 daarop dat ons gewillig moet wees om te luister en nie te gou kwaad word nie, want deur kwaad te word doen jy nie wat voor God reg is nie[2]. Jy beskerm jou eie eer en daarom word ons kwaad.
Die feit dat ons kwaad word, wys daarop dat daar ‘n selfversekerde eiegeregtigheid in ons harte is[3]. Dis kenmerkend van hoogmoed.
‘n Hoogmoedige persoon sal baie vinnig die hoogmoed in iemand anders identifiseer, maar hy sal nie erken dat hyself hoogmoedig is nie, want dis juis wat hoogmoed doen[4]. Hoogmoed soek redes om te bewys dat jy beter is.
Die sonde wat ons dus verhinder om te verander soos die woord ons leer, is hoogmoed. En Jakobus gee vir ons dan ook in hierdie gedeelte ‘n toets waaraan ons ons eie hoogmoed kan meet.
Die eerste toets is: Hoe vinnig word jy kwaad[5]?
“…elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.” (Jak. 1:19)
‘n Persoon wat hoogmoedig is word baie vinnig kwaad en as ons mooi daaroor dink is daar ‘n paar redes waarom ‘n hoogmoedige mens vinnig kwaad sal word:
#1 Hy word vinnig kwaad, want hy dink hy weet alles.
Indien jy dink dat jy alles weet, sal jy vinnig kwaad word wanneer mense nie met jou saam stem nie, want wie dink hulle is hulle. Hoe durf hulle met jou stry[6].
En kyk nou hoekom hoogmoed so gevaarlik is. Hoogmoed versuur nie net jou verhouding met mense nie, dit vernietig ook jou verhouding met God, want jy sal kort voor lank die Here se goedheid en genade en liefde betwyfel omdat dinge nie gebeur soos jy goeddink nie.
#2 Hy word vinnig kwaad, want hy is maklik ongelukkig
‘n Hoogmoedige persoon is gedurig ongelukkig. Hy is ongelukkig omdat hy voel dat almal teen hom is. Hy is ongelukkig omdat goed nie gebeur soos hy beplan nie. En as hy nie genoeg eer en aandag kry nie, dan is hy uiters ongelukkig.
Die geringste opmerking of liggaamshouding kan veroorsaak dat die hoogmoedige verontwaardig of gekrenk voel[7].
Dit is ook hoekom hoogmoedige mense dikwels kwaad is vir die Here, want hulle voel dat dit onregverdig is dat Hy toelaat dat hulle ongelukkige lewe het.
#3 Hy word vinnig kwaad, want hy dink dat alles oor hom gaan
‘n Hoogmoedige persoon dink dat die lewe alleen om homself draai. Hy verwag dat jy alles moet los wanneer hy by jou kantoor instap om hom eers te help.
Dis hoekom ‘n hoogmoedige persoon uiters kwaad sal wees vir ‘n persoon wat hom nie in die dorp gegroet het nie.
Verder is daar ook niks wat ‘n hoogmoedige persoon laat voel dat hy beter as ander is, soos wanneer hy in staat is om mense soos pionne rond te stuur nie[8].
Alles gaan oor hulle en daarom moet mense na hulle luister, vir hulle werk en vir hulle eer.
Daarom is dit vir ‘n hoogmoedige persoon baie moeilik om God in die middelpunt van sy lewe te stel. Hy sal dalk die woord bestudeer, maar sy gedrag kan nie verander nie, want hy is nie gereed om plek te maak vir God in sy lewe nie.
Die tweede toets is: Lei jou kwaad word tot sonde?
“’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie.” (Jak. 1:20)
Daar is twee redes waarom ons kan kwaad word. Die eerste rede is om reg en geregtigheid te beskerm.
Daarom is dit belangrik om te sien dat dit nie noodwendig verkeerd is om kwaad te word nie. Jakobus sê in vers 19 dat ons nie te gou kwaad moet word nie en Paulus sluit ook hierby aan deur te sê:
“As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie.” (Ef. 4:26)
As dit sonde was om kwaad te word, sou God ook nie kwaad geword het nie, maar die Bybel is duidelik daaroor dat Hy kwaad geword het. Hy word kwaad vir alle ongeregtigheid.
Dis die rede waarom Jesus, toe Hy kwaad word, die geldwisselaars se tafels omgegooi het en hulle uit die tempel gejaag het. Hulle het van arm mense verwag om ten duurste hulle skape aan te koop om daar in die tempel te offer. Daarom sê Hy dat hulle van die tempel ‘n rower spelonk gemaak het.
Wanneer God kwaad word, dan is dit altyd om reg en geregtigheid te beskerm. Daarom moet ons ook bereid wees om op te staan vir reg en geregtigheid. En wanneer ons sien dat iemand verontreg word, moet ons kwaad word[9].
Die tweede rede waarom ons kwaad word, is om ons eie eer te beskerm. Jakobus verbind hierdie kwaad word dan ook met hoogmoed. Hy wys ons daarop dat dit ons hoogmoed is wat veroorsaak dat ons kwaad word met die doel om ons eie eer te beskerm en dit lei tot sonde.
Ons raak te gou kwaad, want hoe kan jy so iets aan my doen – asof ons nog nooit sonde teen ander gedoen het nie…
Ons soek reg en geregtigheid vir onsself. Ons gedagtes is vol van onsself. My voordeel, my gerief my lewe…
Dis hierdie hoogmoed wat verhinder dat ons, ooreenkomstig die wil van God, verander.
2. Liefde wat ons krag gee om te verander
In vers 22-25 gebruik Jakobus nou die metafoor van ‘n spieël. Indien jy net in ‘n spieël kyk en onveranderd daarvan weggaan, beteken daardie spieël vir jou niks.
Die heel eerste stap wat ons moet neem om met hierdie hoogmoed in ons harte af te reken, is om die hoogmoed in ons te sien vir wat dit is[10].
En ons kan hierdie hoogmoed alleen sien vir wat dit is, wanneer ons onsself in die woord verdiep. Die Griekse woord wat hier vertaal is met verdiep is ‘n sterk woord wat daarop wys dat jy deeglik en goed moet kyk[11].
In die verband moet ons nou onthou dat die spieëls wat mense in daardie tyd gehad het gewoonlik van metale soos brons, silwer of, as jy baie ryk was, is dit van goud gemaak. Hierdie metale is plat gemaak en gepoleer sodat dit as ‘n spieël gebruik kon word, maar dit kon nie vir jou ‘n goeie beeld gee nie[12].
In ‘n sekere sin is dit dieselfde met die woord van die Here. Ons sondige natuur veroorsaak dat ons nie die regte beeld van onsself kan kry nie. Ons sondige natuur bring hierdie hoogmoed in ons om te dink dat ons nie so sleg is nie.
Ons kyk na die woord en dan gaan ons aan met ons lewe asof ons steeds in beheer is. Ons wil nie ons eie hoogmoed erken nie en daarom is daar nog soveel konflik in ons lewe. Daarom word ons so maklik kwaad, ons wil nie erken nie. Daarom is ons gedurig ongelukkig met die mense om ons en die omstandighede waarin ons moet leef. Daarom blameer ons mense. Dis hoekom dit vir ons so moeilik om te vergewe.
Jakobus leer ons hier dat die oplossing daarvoor is om deeglik en daagliks en verootmoediggend in hierdie spieël te kyk. Hoe meer ons in die woord kyk, hoe meer sal die Heilige Gees ons oë oopmaak om die krag van die evangelie te sien[13] en dit verander ons!
Ons sien iets daarvan wanneer Jesus sê:
“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voëls…” (Matt. 6:25-26)
Jesus sê nie dat ons christene is en daarom mag ons nie bekommerd wees nie. Hy sê ook nie dat ons onsself met wilskrag moet dwing om te verander nie. Hy sê dat ons moet kyk! Kyk na die voëls. Kyk en dink na oor hoe God hulle versorg. Ons moet ons verdiep in wie God is sodat die Heilige Gees ons kan leer wie Hy as ons onderhouer is.
Dis ‘n spieël wat ons oral saam met ons moet vat sodat ons, wanneer ons bekommerd raak, daarin kan kyk en sien hoe lief God ons het. Ons moet na Jesus se kruisdood kyk en sien wat God vir ons gedoen het. Die hemele het gehuil en die aarde het gebewe, omdat daar vir ons hoogmoed betaal moes word. Kyk wat het God vir ons gedoen, want dit is hoe daardie saadjie groei en vrug dra[14].
En as jy weer kwaad word, gaan kyk dan dieper. Wat probeer jy beskerm of verdedig? Kom jy op vir jou eie eer? Want dan verstaan jy nog nie waarvoor Jesus kom sterf het nie! Ons is morele mislukkings. Ons kan alleen kinders van God wees, omdat Hy ons oneindig liefhet[15]. Omdat Hy ons regverdig gemaak het. Sy kruisdood en opstanding maak ons waardig, nie ons aggressie of redenasievermoë nie.
Of as jy dalk angstig is oor iets, dink daaraan dat daardie angs en bekommernis wys dat ons nog besig is met ons eie hoogmoedige gedagtes. Ons onderwerp nie ons gedagtes aan die woord van God wat leer dat Hy vir die dag van môre sal sorg nie. Ons is nie besig om ons te verdiep in hierdie spieël nie.
Of een persoon kom na jou toe en sê dat hy/sy nie meer lief is vir jou nie, of dat jy onaantreklik is, of dat almal jou haat en dan stort jou lewe in duie, want jy verdiep jou nie in die woord nie[16]. Jy het nog nie gaan dink wat dit beteken dat daar staan:
“Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.” (1 Joh. 4:9)
In nederigheid moet ons onsself onderwerp aan hierdie volmaakte woord. Kyk diep daarin, want dit gee lewe.
Slot:
Geliefdes terwyl ons hoogmoed is, sal ons aanhou om ons waardigheid te soek in dit wat ons doen en in dit wat ons in die lewe wil bereik. Die gevolg sal wees dat ons vinnig kwaad word en ons sal ons eie eer tot die dood toe moet verdedig.
Moenie daardie las op jou skouers neem nie. Soek jou waardigheid in dit wat Christus vir jou gedoen het. Kyk hoe Hy vir jou gesterf het om jou reg te gee.
Dis alleen wanneer ons hierdie verlossing verstaan dat ons al meer die krag sal hê om ons tong in toom te hou.
Verdiep jou in hierdie spieël. Ons hemelse Vader het ons oneindig lief!
[1] Moo, D. J. (2000). The letter of James (p. 90). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos. [2] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [3] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [4]Lewis, C.S. 2001. Mere Christianity. New York: HarperCollins. 121-128p. [5] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [6] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 1:19). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [7] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [8] Lewis, C.S. 2001. Mere Christianity. New York: HarperCollins. 121-128p. [9] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 1:19). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [10] Lewis, C.S. 2001. Mere Christianity. New York: HarperCollins. 121-128p. [11] MacArthur, J. F., Jr. (2006). The MacArthur study Bible: New American Standard Bible. (Jas 1:23). Nashville, TN: Thomas Nelson Publishers. [12] MacArthur, J., Jr. (Ed.). (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., p. 1928). Nashville, TN: Word Pub. [13] MacArthur, J. F., Jr. (2006). The MacArthur study Bible: New American Standard Bible. (Jas 1:25). Nashville, TN: Thomas Nelson Publishers. [14] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [15] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [16] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church.
Comments