Teks: Genesis 35:16-29
Hierdie gedeelte wys ons maar net weer dat hierdie gesin soos enige ander gesin was. Daar was hoogtepunte soos met die geboorte van elke kind en rykdom wat vergader is.
Daar was diep hartseer soos met Ragel se dood. ‘n Gebeurtenis wat Israel so diep getref het dat Ragel se tragiese dood later ‘n simbool geword het van die hartseer wat dikwels gepaardgaan met moederskap (vgl. Jer. 31:15 & Matt. 2:18).
Net so was daar ook die diepe teleurstellings. Met Dina se verkragting was dit Simeon en Levi wat ‘n hele stad se mans vermoor het en in hierdie verhaal sien ons dat Ruben, die oudste seun van Jakob, gemeenskap met Bilha gehad het.
Daar is heel moontlik twee redes vir hierdie ongehoorde daad van Ruben.
Bilha was Ragel se slavin en deurdat hy gemeenskap met Bilha gehad het, sou hy verhoed dat hierdie slavin nou Ragel se plek inneem as die gunsteling vrou van sy pa.
Verder was dit ook ‘n berekende poging om die leierskap in die familie in te palm.
Hoe dit ook al sy, hierdie skandes, het die kloof tussen Jakob en die kinders van Lea nog groter laat word. Die skandes in die familie is elke keer veroorsaak deur die kinders wat Lea vir hom in die wêreld gebring het. Daarom het dit ongetwyfeld veroorsaak dat Jakob meer gefokus het op die kinders wat Ragel vir hom in die wêreld gebring het.
Dit word ook gesien in die benaming van Ragel se jongste seun. By die geboorte noem sy hom Ben-Oni wat letterlike beteken, Swaarkryseun. Daarteenoor gaan Jakob dan en hy noem hom Benjamin. Dit beteken, Regterhandseun.
Met hierdie benaming gee Jakob aan hierdie seun ‘n plek van eer in sy huis.
Wat opvallend is van hierdie verhaal is Jakob se hantering van die seuns van Lea teenoor die seuns van Ragel. Hierdie twaalf seuns is almal gebore in vervulling van God se belofte aan Jakob en tog was hy nie daartoe in staat om die groter prentjie te sien nie. Hy het toegelaat dat omstandighede, sonde en sy emosies sy verhouding tot hierdie seuns bepaal.
Dit laat mens ongetwyfeld dink aan ons eie hantering van ons medemens. Ons hanteer mense na aanleiding van hoe ons oor hulle voel. Indien hulle ons goedgesind is en ons bevoordeel, sal ons hulle ook goed behandel.
Die mense wat die lewe vir ons moeilik maak kom eens en vir altyd in ons slegte boekies en dan hanteer ons hulle ook ooreenkomstig. Ons kyk in hulle swakheid vas sonder om ons eie ellende te erken.
Indien dit die manier is hoe die Here met ons werk, sou ons almal sleg behandel en op die ou end veroordeel word.
Jesus kyk egter anders na ons. Sy optrede word nie bepaal deur wat ons aan Hom doen nie, maar sy optrede word volkome bepaal deur sy liefde vir ons. ‘n Onvoorwaardelike liefde!
Daarom het Hy nie gekom om ons te veroordeel nie, maar om ons te red. Hy sterf vir ons sodat ons gered kan word. Sodat ons waardig kan wees om sy bruid te wees.
Wanneer ons hierdie liefde verstaan, sal ons ook anders na ons medemens kyk.
Kyk na jou medemens deur die liefde wat Christus vir hom/haar het.
Ons moet na ons medemens kyk deur hierdie liefde van Christus. Die kerk is Jesus se bruid. Hy is ontsettend lief vir haar en indien ons haar beledig of verkleineer, dan is ons besig om Hom te beledig en te verkleineer. Daarom leer Hy ons ook:
‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’ (Matt. 25:40)
Ons kyk vas in mense se tekortkoming in plaas daarvan om hulle verlossing in Christus raak te sien.
Daarom moet ons nie mense hanteer volgens dit wat hulle verdien nie. Ons moet hulle hanteer asof dit Christus is wat voor ons staan.
Vrae tot introspeksie:
a) Wat maak dit vir jou moeilik om mense van wie jy nie hou nie, met respek te hanteer?
b) Wat leer jy in hierdie gedeelte oor die onverdiende genade van die Here?
留言