Teks: Lukas 24:13-35
Inleiding:
Wanneer mense na jou kyk en met jou praat, wat sal die afleiding wees wat hulle maak. Wat straal jy uit? Maar nog belangriker, watter verskil maak jou geloof in dit wat mense van jou sien.
Straal ons lewe van die feit dat ons harte warm brand vir Christus of loop ons met somber gesigte rond en kla oor alles wat fout is in hierdie lewe.
Kom ons toets ons hart. Hierdie gedeelte gee twee tekens van ‘n koue hart. Kom ons begin deur ons harte so te toets.
1. Die tekens van ‘n koue hart
Hulle het somber gesigte (vs. 17)
Hierdie gedeelte begin deur ons daarop te wys dat twee van die dissipels op pad was na die dorpie Emmaus. Op pad daarheen het hulle geloop en praat oor al die dinge wat gebeur het. En hulle gesigte word dan beskryf as somber.
M.a.w. hulle gesigte was donker en swaarmoedig want al waaroor hulle kan praat is die verlede. Hulle dink terug aan die mooi dinge wat Jesus in die afgelope drie jaar onder hulle gedoen het. Die wonderwerke, die preke en die persoonlike gesprekke, maar dit het alles geëindig in die dood. In teleurstelling.
Hulle het na die lewe gekyk sonder die opstanding! Die gevolg is somberheid.
Dieselfde gebeur ook met ons. Ons kyk na hierdie lewe en sien net die probleme en moeilike omstandighede. En in heimwee praat ons dan oor die verlede asof dit die beste tyd was, so asof daar geen uitdagings was nie. En hoe meer ons dit doen, hoe meer word hierdie somberheid op ons gesigte gesien.
Ons kyk so vas in die slegte omstandighede dat ons blind is vir die heerlike oplossing wat, in Christus, voor ons oë is[1]. Ons leef van uit die dood en nie vanuit die opstanding en oorwinning van Christus nie.
Dis ook kenmerkend van die sekulêre wêreld waarin ons leef. Hulle is vinnig om te sê dat dit verregaande van die kerk is om te glo in ‘n opstanding uit die dood. Wetenskap en logika wys tog dat die mens dood gaan en verrot. Die mens is onbelangrik en net soos al die ander skepsels het die mens ook uit niks voortgekom nie. Daarom is die mens niks anders as enige van die ander skepsels nie.
Maar in dieselfde asem sê hulle dat ons mense met respek moet hanteer. Hulle is die grootste voorstanders van menseregte.
Dit maak tog nie sin dat jy sê dat jou oorsprong en jou uiteinde onbelangrik is, maar in die selfde asem sê jy dat elke lewe belangrik is nie[2]. Jy moet of erken dat geen lewe belangrik is nie, en daarom kan ons leef en doen net soos ons wil. Of jy moet die opstanding erken en daarom dat lewe belangrik is, maar daar is nie ‘n middeweg nie.
Daarom is die eerste teken van ‘n koue hart, so somber gesig. Daar word geleef met die oog daarop dat alles uitloop op die dood.
Hulle het ‘n gebrek aan begrip en is traag van gees (vs. 25)
Die tweede teken van harte wat koud is, kry ons in Jesus se opsomming van hierdie twee dissipels. Hy sê in vers 25:
“Wat ’n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie?” (Luk. 24:25)
Die dissipels is sonder begrip!
Hierdie twee dissipels het net soos die meeste van die Jode, geglo dat die messias wat sou kom, Israel van die politieke en ekonomiese slawerny sou kom bevry wat deur die Romeine veroorsaak is[3]. Hulle het gedink dat dit hulle grootste behoefte is. Daarom is dit so ironies as hulle in vers 21 sê:
“Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos.” (Luk. 24:21)
Die Griekse woord wat hier vertaal is met “verlos”, is hoofsaaklik gebruik om te verwys na die verlossing uit slawerny[4].
Die grootste slawerny waarteen die Jode vas gekyk het, was die politieke en ekonomiese juk wat die Romeine op hulle geplaas het. Hulle het gedink dat hulle omstandighede die grootste probleem is.
Maar Jesus het die Jode van ‘n baie dieper slawerny kom verlos as die politieke druk wat hulle ervaar het en daarom sê Hy dat hulle sonder begrip is. Ons nood is baie dieper as die slegte omstandighede wat ons in ons lewe ervaar. Die sonde maak van ons slawe en daardie slawerny lei tot die ewige dood!
Ons dink dat ons gelukkig sal wees indien ons daardie spesiale werk het, of indien ons suksesvol is of ons soek daardie geluk in ons kinders of in ‘n gelukkige huwelik.
Indien ons ons geluk in hierdie goed soek, dan word ons kort voor lank slawe daarvan.
Indien jy jou geluk in jou werk en in prestasies soek, sal dit veroorsaak dat jy net al hoe meer en meer moet werk om daardie werk en die sukses in die werk te behou. Dit word dan al moeiliker om aan almal se verwagtings te voldoen.
Of indien jy daardie geluk in verhoudings eerder as in die Here soek, dan sal dit vir jou voel of jy die een is wat die ander persoon gelukkig moet hou. So word jy weer slaaf van daardie verhoudings en dis ook dikwels die rede waarom sommige mense van die een verhouding tot die volgende gaan. Ons harte is vasgevang in hierdie slawerny!
En daarom bid ons net soos die Jode vir ‘n verandering in ons omstandighede. Ons dink dat ons gelukkig sal wees indien ons uit ons slegte omstandighede verlos word.
Ons staan voor die Here en vra om hulp, maar ons kom nie na Hom toe as sondaars wat verlossing van daardie sonde nodig het nie. Dis nie ons omstandighede wat moet verander om ons gelukkig te maak nie, maar ons harte[5]. Alleen wanneer ons deur die verlossing weer opnuut verenig word met God, dan word ons vry.
Voordat ons nie die diepte van ons slawerny in sonde verstaan nie, sal ons net soos hierdie dissipels, sonder begrip wees. Ons sal dan ook nie verstaan hoe Jesus se dood ons help nie. Ons sal aanhou soek na iets of iemand wat ons aardse geluk kan gee.
2. Die oplossing vir ‘n koue hart (vs. 25)
Aanvaar die gesag van die Bybel
Die rede waarom hierdie twee dissipels se harte koud was, is omdat hulle die Bybel net aanvaar het in sover dit by hulle politieke en ekonomiese omstandighede ingepas het. Hulle het ‘n leier gesoek wat hulle kon help om hulle nasionale trots te herstel.
Die Bybel is die volle openbaring van God en ons moenie in die strik val om net die gedeeltes wat volgens ons reg en mooi is te aanvaar nie. Ons moet alles in die Bybel aanvaar as woord van God. Of ons dit verstaan of nie[6]. Ons kan nie ‘n maagdelike geboorte verstaan nie en ons kan nie die opstanding uit die dood verklaar nie, maar daar is genoegsame getuienis dat ons dit met groot vrymoedigheid kan glo.
Net in hierdie gedeelte is ten minste drie grondige bewyse van die betroubaarheid van die Woord.
Die eerste bewys is Kleopas se naam wat genoem word. Indien dit so was, soos baie beweer, dat die dissipels ‘n storie opgemaak het om hulle eie sekte te bevorder, sou hulle nie sy naam genoem het nie. Hulle sou eerder bly by twee Emausgangers, want dan kan die waarheid nie geverifieer word nie.
Lukas noem egter vir Kleopas by die naam omdat Kleopas bekend was en daarom ‘n betroubare getuie[7].
‘n Verdere bewys is die feit dat Jesus net as ‘n gewone mens voorgestel word. Indien jy ‘n storie wil opmaak oor iemand wat uit die dood opgestaan het, dan sal jy hom nie so gewoon voorstel dat die mense wat saam met Hom loop, Hom nie eens herken nie. Jy sal Hom eerder beskryf in sy glans en heerlikheid[8].
Die enigste logiese rede hoekom Jesus as ‘n gewone mens beskryf word, is omdat dit die waarheid is.
Maar nog ‘n mooi en sterk bewys kry ons in vers 18 as die twee dissipels sê:
“Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?” (Luk. 24:18)
Jesus se bediening en dood was so bekend in Israel dat almal in Jerusalem daarvan geweet het en ook daaroor gepraat het[9]. Almal het geweet van die wonderwerke wat Jesus gedoen het, almal het gehoor van die groot uitsprake wat Hy gemaak het. Nie eens sy vyande kon dit ontken nie.
En 25 jaar later, toe Paulus as gevangene die Christendom voor Koning Agrippa verdedig, dan sê hy:
““Die Christus moes ly en die eerste wees wat uit die dood opstaan. Daardeur sou Hy aan die Jode en aan die heidennasies die lig bring.”…onder die leiding van die Heilige Gees praat ek die waarheid wat elkeen kan verstaan. Die koning weet van hierdie dinge, en daarom praat ek openhartig met hom. Ek is seker dat dit nie sy aandag ontgaan het nie, want dit het nie êrens in ’n hoekie gebeur nie.” (Hand. 26:23-26)
25 jaar na die opstanding van Christus, praat Paulus met ‘n heiden wat in die omgewing van Jerusalem gewoon het en hy sê, jy weet van die wonderwerke en die leë graf en daarom kan jy dit nie ontken nie.
Ons kan baie dinge nie verklaar nie, maar die Bybel gee ons genoegsame bewyse dat die evangelie wat daarin opgeskryf is, wel gebeur het en daarom is die eerste wat ons moet doen om ons hart warm te maak, ons moet die gesag van die skrif aanvaar.
Bestudeer die Woord
Ons redeneer dikwels dat al wat ons nodig het is ‘n verskyning of ‘n teken of openbaring. Dit sal ons harte warm maak en tog is dit die grootste leuen.
Jesus het die mees opspraakwekkende wonderwerke en tekens gedoen. Hy was inteendeel voor die Jode se oë en hulle harte was steeds koud. Hulle oë was blind.
Dieselfde geld ook vir hierdie twee Emmausgangers. Jesus was daar by hulle en wat het hulle harte warm gemaak? Hoor wat sê hulle:
“Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”” (Luk. 24:32)
Hulle harte het nie warm geword toe hulle Hom erken nie, maar toe Jesus aan hulle die Skrif uitgelê[10]. En hier is dit nou weer belangrik hoe Jesus die skrif uitgelê het. Hoor wat staan in vers 27:
“Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.” (Luk. 24:27)
Ons maak dikwels die fout om die Bybel te lees asof dit alles oor ons gaan. My toekoms en my prestasies en my lewe.
Die hele doel van die Bybel is om ons te wys wie Jesus as ons Verlosser is. Hierdie manne se harte het warm geword toe hulle besef dat Jesus die een is waaroor die hele Ou Testament gaan. Hy is die volmaakte Priester, Profeet en Koning. Selfs die wet van Moses wys vooruit na die volmaakte Lam wat geslag sal word as offer vir ons sonde.
Dis alleen wanneer ons die woord bestudeer en besef dat Jesus daardie lydensweg geloop het vir ons, dat ons harte warm sal word. Sy heerlike liefde maak ons harte warm.
Slot:
Indien ons na die lewe kyk sonder die opstanding van Jesus Christus, sal ons lewe gekenmerk word deur somberheid en gebrek aan begrip! Ons harte sal koud word.
Daarom, bestudeer die skrif. Soek Jesus as die lewende Christus, die Seun van God wat opgestaan het[11]. Soek sy heerlike verlossing en genade in elke deel van die Skrif totdat jou koue hart weer warm word.
Maar die Here gee ons ook die Nagmaal om ons harte op ‘n besondere manier warm te maak. Die brood word gebreek en die wyn word vergiet as teken daarvan dat Jesus se liggaam gebreek en sy bloed vergiet is vir ons sonde. Dis hoe lief Hy ons het!
Kom ons leef van uit die vreugde van die opstanding van ons Here, Jesus Christus!
[1] Lloyd-Jones, M. (2013). The Church Today: The Road to Emmaus. In Setting Our Affections upon Glory: Nine Sermons on the Gospel and the Church (p. 72). Wheaton, IL: Crossway. [2] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [3] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Lk 24:18). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [4] Zodhiates, S. (2000). In The complete word study dictionary: New Testament (electronic ed.). AMG Publishers. [5] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [6] Lloyd-Jones, M. (2013). The Church Today: The Road to Emmaus. In Setting Our Affections upon Glory: Nine Sermons on the Gospel and the Church (p. 81). Wheaton, IL: Crossway. [7] Groenewald, E. P. (1989). Die Evangelie volgens Lukas (Lk 24:13). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [8] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [9] Martin, J. A. (1985). Luke. In J. F. Walvoord & R. B. Zuck (Eds.), The Bible Knowledge Commentary: An Exposition of the Scriptures (Vol. 2, pp. 263–264). Wheaton, IL: Victor Books. [10] Groenewald, E. P. (1989). Die Evangelie volgens Lukas (Lk 24:25). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [11] Lloyd-Jones, M. (2013). The Church Today: The Road to Emmaus. In Setting Our Affections upon Glory: Nine Sermons on the Gospel and the Church (p. 86). Wheaton, IL: Crossway.
Kommentare