top of page

Wanneer die lig van die evangelie ons harte verlig...

Teks: Johannes 9:35-41

Teksvers: Joh. 9:36

Om hierdie gesprek te verstaan is dit belangrik om te sien dat Jesus hier met twee groepe te doen het.

Aan die een kant is daar die man wat bereid is om in Jesus te glo. Hy besef dat Hy blind was en nie vir Jesus erken het nie. Daarom spreek hy die begeerte teenoor Jesus uit om hierdie geestelike lig te soek.

Die gevolg is dat Jesus Homself aan hom bekend stel sodat hy Hom kan sien en hoor. Hierdie man wat fisies en geestelik blind was, het fisies en geestelik siende geword. Die lig het ten volle deurgebreek en daarom aanbid hy Jesus.

Daarna praat Jesus met die omstanders wat die tweede groep is. Hy sê aan hulle dat die doel van sy koms juis was om elke mens voor hierdie keuse te stel. Die woord “beslissing” kan ook met krisis of oordeel vertaal word. Elke mens word voor hierdie beslissing gebring.

Dit is so dat Jesus nie na die wêreld gekom het om te oordeel nie (vgl. 3:17), maar sy koms stel elke mens wel voor hierdie keuse. Jy moet besluit of jy Hom as jou Verlosser gaan aanvaar of nie.

Dit beteken dat daar mense is wat blind was, wat nou sal kan sien. Soos hierdie blinde wat genees is. Daar is ook ander wat meen dat hulle nie Jesus nodig het om te kan sien nie. Daarmee verwerp hulle Jesus want hulle dink dat hulle nie sy verlossing nodig het nie. Daardie mense, sal wanneer dit te laat is, besef in watter duisternis hulle geleef het.

In hierdie opsig sê Paulus dat hy wat meen dat hy staan, moet pasop dat hy nie val nie (1 Kor. 10:12). Ons het nodig om onsself in eerlikheid te ondersoek.

Dit gebeur soms dat ons in die waan leef. Ons dink dat ons die volle lig het. Ons dink dat ons nie so sondig soos ander mense is nie. Ons vind in aardse goed, in plaas van in Jesus, ons heil of dalk in die goeie lewe wat jy leef, die goeie mens wat jy is.

Aan die anderkant erken jy dalk jou swakheid, maar jy bly steeds in daardie sonde voortleef. Dalk voel jy minderwaardig omdat jou lewe bepaal word deur dinge wat jy gedoen het en dit is asof jy net nie oor daardie sonde kan kom nie.

Dit is tekens daarvan dat ons in hierdie duisternis leef.

Al hoe ons uit hierdie duisternis bevry kan word, is deur te erken dat ons nie in onsself kan loskom uit die mag van die duisternis nie. Jesus moes vir ons sonde gesterf het.

Paulus beskryf dit so mooi wanneer hy sê:

“God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.” (2 Kor. 4:6)

M.a.w. ons leer God se heerlikheid, liefde en genade ken deur Jesus. Dit is daardie verlossingslig wat ons nuut maak. Die onbegryplike liefde van God, maak dat ons vrymoedigheid het om ons sonde te erken, want ons word nie veroordeel nie, maar verlos in Christus.

Leef in daardie lig van jou verlossing. In die lig van dit wat Jesus is en nie in die duisternis van jou eie sonde en gebroke lewe nie….

28 views1 comment

Recent Posts

See All

1 Comment


Konrad
May 29, 2020

Hierdie Johannes-studie is fantasties!

Like
bottom of page