Teks: Jakobus 2:14-26
Inleiding:
Hierdie gedeelte is al baie keer gebruik as ‘n voorbeeld van die Bybel wat homself weerspreek. In Romeine skryf Paulus dat ‘n mens alleen vrygespreek kan word op grond van jou geloof en nie omdat jy die wet onderhou nie (Rom. 3:28).
Jakobus voer hier aan dat jy nie alleen kan sê dat jy glo en dan dink dat jou saak met God reg is nie. Jy moet ook die wet onderhou.
Die belangrike van hierdie twee gedeeltes is egter om te sien wat elke skrywer se doel is. Paulus skryf met die doel om ons te wys op die wyse waarop ons vryspraak by God verkry en die wys is alleen deur geloof.
Jakobus se doel met sy brief is weer om vir ons die praktiese gevolge van ons vryspraak te wys. Indien jy nou met ander woorde vrygespreek is, hoe sal so geloofslewe lyk[1].
Beide skrywers praat dus oor dieselfde saak naamlik vryspraak, maar elkeen praat oor verskillende aspekte daarvan.
Daarom moet ons nie hier vra, "Hoe kry ons vryspraak nie?" Om daardie vraag te beantwoord moet ons na Paulus toe gaan in die brief aan die gemeente in Rome.
Die vraag wat Jakobus beantwoord is, "Hoe lyk die geloof wat voortvloei uit die feit dat jy reeds vrygespreek is?"
Om hierdie vraag te beantwoord sal ons eers kyk hoe ‘n valse geloof lyk en dan kyk ons daarna hoe die ware geloof lyk wat uit die vryspraak kom.
1. Hoe ‘n valse geloof lyk!
Die valse geloof, wat wys dat ‘n mens nie gered/vrygespreek is nie, lyk soos dié van die bose geeste. Dit is wanneer jy bloot net met jou verstand instem dat daar een God is, maar dit het geen verandering in jou lewe nie.
Daar is twee eienskappe van so geloof.
Goeie dogma
Die bose geeste glo dat daar net een God is. Dogmaties kan ons dus sê dat die bose geeste ‘n suiwer teologie het.
Ons lees byvoorbeeld in Matteus, dat toe Jesus in die gebied van die Gadareners gekom het, daar twee mans was wat deur bose geeste beset was. Toe hulle Jesus sien het hulle na Hom toe gehardloop en geskreeu:
“Wat het U met ons te doen, Seun van God? Het U hierheen gekom om ons voor die tyd te pynig?” (Matt. 8:29)
Die bose geeste se teologie is suiwer.
Hulle is monoteïste wat beteken dat hulle bely dat daar net een God is (Jak. 2:19).
In Matteus 4 lees ons dat die duiwel erken dat die Bybel die Woord van God is (vgl. Matt. 4). Hy haal die Bybel aan as gesaghebbend.
En hulle bely dat Jesus gekom het om hulle werk tot niet te maak sodat hulle ewig in die hel sal vergaan[2].
Hulle erken selfs Jesus as Seun van God (Matt. 8:29).
Hulle het hierdie lieflike belydenis, maar hulle dade wys dat hulle verhouding met God gepaard gaan met wantroue, haat en ongehoorsaamheid[3].
Daarmee wys Jakobus ons daarop dat dit goed is om teologies onderlê te wees in die skrif, maar dit sal jou niks help as daardie teologie nie jou lewe verander nie. Teologie word baie maklik net iets wat ons met ons mond bely[4].
Dit gebeur in die kerk dat mense daarvan oortuig is dat hulle gelowiges is op grond van hulle kennis van God. Hulle bely ‘n suiwer teologie, maar hulle lewens word gekenmerk met vuil taal, hulle leef nie lewens wat goed en opbouende is nie en hulle is hoogmoedig.
Hulle het dalk die mooiste Bybelse argumente maar hulle liefdeloosheid en die feit dat hulle neerkyk op mense getuig van hierdie valse geloof.
So, die eerste kenmerk van ‘n valse geloof is dat daar ‘n goeie dogma is, maar dis koud en liefdeloos, want daardie teologie het nog nie die harte aangeraak nie.
Vrees God
Die gevolg van hierdie suiwer teologie van die bose geeste is dat hulle gevul is met vrees vir God. Hulle sidder van angs, want hulle besef dat hulle vyande van God is. Jesus het gekom om hulle werk tot niet te maak (vgl. Matt. 8:29). Hy is die oorsaak daarvan dat hulle ewig in die hel sal vergaan.
Daarom is vrees nog ‘n kenmerk van ‘n valse geloof. Die bose geeste het ‘n heilige ontsag vir God, maar hulle vertrou Hom nie. Daarom staan daar in Psalm 115:
“Julle wat die HERE vrees, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild.” (Ps. 115:11)
Indien jy nie God vertrou nie, sal jy met vrees gevul wees. Jy sal dalk bely dat Hy die Almagtige is, maar jy sal ook ‘n diep vrees hê. Vrees dat Hy jou enige tyd sal straf. Elke slegte ding wat oor jou pad kom sien jy as straf van God.
Jy sal die hele tyd met jou sonde gekonfronteer word en daardie sonde sal jou herinner aan die feit dat jy nie waardig is om gered te word nie. Daardie valse geloof, sal jou laat sidder van angs, want jy vertrou nie God se liefde nie. Daarom staan daar:
“Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.” (1 Joh. 4:18)
Vrees verwag straf! Vrees wys dat jy nie Christus as jou Here en verlosser vertrou nie. En daarom is hierdie vrees nog ‘n kenmerk van die valse geloof.
2. Hoe ‘n lewende geloof lyk!
Jakobus gebruik drie voorbeelde om aan ons te wys hoe hierdie geloof lyk wat uit jou vryspraak kom. Die drie voorbeeld is die arm man, Ragab en Abraham. Kom ons kyk wat leer ons by hulle oor ‘n lewende geloof.
Die arm man - Geloof help dié wat swaarkry
Jakobus gebruik die voorbeeld van ‘n desperate persoon in die gemeenskap. ‘n Persoon sonder kos en klere. ‘n Persoon wie se nood baie duidelik sigbaar is.
Die reaksie wat hierdie persoon se nood dan uitlok is - godsdienstige woorde. Die Nuwe Direkte vertaling stel dit so:
“Gaan in vrede, word warm en word versadig…” (Jak. 2:15; NDV)
Hierdie woorde herinner aan ‘n algemene Bybelse seënwens. Shalom – vrede!
Maar in hierdie geval word hierdie woorde gebruik om die gebrek in geloof te verdoesel. Die gebrek word toegesmeer met mooi godsdienstige woorde[5].
Ware geloof, bly nie net by mooi woorde nie. Die geloof wat uit die vryspraak kom, word sigbaar in dade. Ware geloof soek na oplossings om die nood om ons te verlig. Dis ook iets wat Jesus vir sy dissipels geleer het.
Jesus wys die dissipels daarop dat die nood wat hulle sien en aanspreek, 'n teken daarvan is dat hulle in die Koninkryk van God sal kom. Jesus stel dit so, Hy sê:
“Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’ Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of ’n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’ En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’” (Matt. 25:41-46)
Die gelowige het empatie, want hy was self daar. Hy was self arm en swak en in ellende gedompel, maar Christus het hom in sy genade gered (vgl. 2:5). Jesus se bo en onderkleed is van sy lyf af geskeur, sodat ons sonde met sy bloed bedek kan word.
Daardie genade en liefde maak dat die ware gelowige die nood om hom raaksien en iets daaraan wil doen. Ons verlossing maak dat ons wil help soos Jesus ons gehelp het.
Indien ons nie so groei in ons liefde vir ons naaste nie, dan is dit dalk so dat ons sê dat ons sondaars is wat uit genade gered is, maar ons dade wys dan dat ons nog nie in daardie verlossing glo nie[6].
Ragab – Geloof maak jou dapper
Ragab het in Jerigo gebly en Jerigo was een van die eerste stede wat deur Israel ingeneem is toe hulle die beloofde land verkry het.
Voor die volk hierdie stad ingeval het, het hulle spioene gestuur om die stad te gaan verken. Toe hulle daar in die moeilikheid gekom het, het Ragab die spioene in haar huis geneem en hulle weggesteek. En omdat haar huis teen die stadsmuur was, het sy hulle met ‘n tou teen die muur laat afsak om te ontsnap.
Ragab het haar lewe gewaag om die verspieders te help en daarom staan sy in direkte kontras met die man wat nie bereid is om die persoon in nood te help nie[7]. Sy plaas alles op die spel om te doen wat reg is. Haar lewe getuig van iemand wat dapper is.
Dis dieselfde rede waarom Paulus sê:
“Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.” (Gal. 6:14)
Die ware geloof veroorsaak dat ons dood is vir die wêreld en lewend vir God. Dis geloof wat dapper maak!
Ons geloof in die kruis, maak ons dapper om op te staan vir wat reg is. Al word dit wat vroeër vir jou belangrik was bedreig. Dit wat jy vroeër so bang was om te verloor sal jy bereid wees om op te gee omdat jy nou iets belangriker het, naamlik Christus.
Ware geloof maak jou daarom dapper om op te staan vir wat reg is!
Abraham – Geloof maak jou vriend van God
Hierdie is sekerlik die grootste toets vir ‘n ware geloof. Ware geloof soek na ‘n vriendskap met God.
Die valse geloof kan God se heiligheid, sy wysheid, sy almag en selfs iets van sy liefde sien, maar wat valse geloof nie kan en wil doen nie, is om God tevrede te stel alleen vir wie Hy in Homself is nie. Nie omdat jy iets kan kry nie, nie omdat jy vrees nie, maar alleen omdat jy besef wie Hy is. Alleen omdat jy graag by Hom wil wees.
Dis tog wat ‘n ware vriendskap is. ‘n Ware vriend kyk wat vir sy vriend belangrik en goed sal wees en dan doen hy dit vir hom/haar al verg dit groot opoffering. Al is dit ‘n duur prys om te betaal.
Daarom is dit opvallend dat God vir Abraham sy vriend noem. Abraham was 'n vriend van God, want toe God vir Abraham gevra het om sy seun te offer, het hy nie gehuiwer nie.
Abraham was ‘n goeie vriend! ‘n Vriend wat selfs bereid was om sy seun te offer omdat sy beste Vriend dit van hom gevra het.
Maar Abraham het nooit nodig gehad om sy seun te offer nie. Net voor Abraham sy seun offer, dan sê die Here vir hom dat dit nie nodig is om vir Isak te offer nie, want nou weet Hy dat Abraham hom liefhet.
Hoe ‘n vriend is jy van God? Hoe ver is jy bereid om die sonde in jou lewe af te sterf. Is jy bereid om daardie verhouding op te offer omdat jy nie bereid is om voor die huwelik saam te slaap nie – want jy weet dat dit nie welbehaaglik is voor God nie.
Is jy bereid om daardie vriende wat jy het op te offer omdat dit jou verhouding met Christus negatief beïnvloed?
Ons sal dit net reg kry wanneer ons sien hoe ‘n vriend God vir ons is. Hy gaan saam met sy Seun teen Golgota op en Hy offer Hom vir ons. Jesus sterf aan ‘n kruis, sodat ons vriendskap met God weer herstel kan word.
Elke Christen kyk in geloof na daardie offer en sien die liefde van God daarin. Dit verander ons lewens. Skielik is ons nie meer vol vereistes van wat God vir ons moet doen nie.
Daardie liefde wat Hy vir ons het, dis genoeg. Dis heerlik dit maak dat ons ‘n vriendskap met Hom soek. Ons wil naby Hom leef en vir Hom leef. Hy is waardig in Homself.
Is God jou vriend?
Slot:
Indien jy ‘n lewe leef wat nie in ooreenstemming is met die woord nie, dan beteken dit dat jy nog nie hierdie liefde gesien en oordink en verstaan het nie. Jy leef nog nie soos ‘n vriend van God nie.
Kyk wat ‘n vriend het ons in Christus. Hy was bereid om ons uit ons diepste nood te red.
Ware geloof is bereid om alles wat daardie vriendskap met God benadeel, op te offer. Ware geloof soek na God se wil vir jou lewe.
[1] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 2:18). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [2] Ellenburg, B. D., & Morgan, C. W. (2008). James: Wisdom for the Community (p. 108). Great Britain: Focus Christian Publications. [3] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [4] Moo, D. J. (2000). The letter of James (pp. 130–131). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos. [5] Moo, D. J. (2000). The letter of James (pp. 125–126). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos. [6] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [7] Moo, D. J. (2000). The letter of James (p. 143). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos.
Comments