Teks: Johannes 15:9-17
Teksvers: Joh. 15:10
Hier beklemtoon Jesus die opdrag om lief te hê deur dit drie keer te herhaal (vs. 9, 12 & 17). Hy beskryf dan hierdie liefde op twee maniere.
Gehoorsaamheid (vs. 10)
Jesus neem Homself as die perfekte voorbeeld van hierdie liefde. Hy is gehoorsaam aan sy Vader en daardeur bly Hy in die liefde van die Vader. Hy kruisig sy eie behoeftes en soek na die wil van die Vader. Net so moet ons ook in sy liefde bly deur gehoorsaam te wees aan Hom.
Opofferend (vs. 13)
Verder word hierdie liefde gekenmerk deur selfopoffering. Daarin is Jesus ook vir ons 'n voorbeeld. Hy het ons so lief dat Hy namens ons aan die kruis sterf. Paulus beskryf dit verder deur daarop te wys dat Jesus vir ons sterf toe ons nog sy vyand was (vgl. Rom. 5:10). Ons verdien daarom verseker nie sy liefde nie. Sy liefde strek baie verder as ons toewyding aan Hom.
So hoe kry ons krag om so lief te hê?
Gehoorsaam deur blydskap
Om volkome lief te hê deur gehoorsaam te wees, wys Jesus ons in vers 9-11 op 'n belangrike waarheid. Ons dink en die wêreld leer dat ons blydskap in aardse goed sal vind. As jy net daai miljoen kan kry of weer jonger kan lyk of dalk daardie groot vakansie kan hou, dan sal jy bly kan wees. Die gevolg van hierdie valse blydskap is dat dit ons tot ongehoorsaamheid lei.
Jesus sê nee! Ware blydskap kry ons net in Hom. Die blydskap waarna ons soekend bly, is om weer deel te word van hierdie gemeenskap tussen Vader en Seun. Dit is presies wat gehoorsaamheid doen. Deur gehoorsaam te wees word ons deel van daardie heerlikheid en dit vul elke gelowige met groot blydskap.
Daarom kan en sal ‘n gelowige gehoorsaam wil wees. Daardie blydskap wat ons in Christus kry dwing ons tot gehoorsaamheid.
Opofferend - niemand sal na ons kyk nie
Dit is verder ook vir ons moeilik om hierdie opofferende liefde van Jesus na te volg omdat die wêreld ons leer dat ons alleen is. As jy nie vir jouself opkom nie sal daar op jou getrap word. Daarom moet jy terug seermaak, beledig en na jou eie behoeftes omsien.
Daarop sê Jesus in vers 12-17 dat ons die beste vriend in die wêreld het. Ons het 'n vriend wat bereid was om vir ons sonde te sterf.
Dit laat ons ook terugdink aan Abraham. Hy is die enigste een na wie daar verwys word as “vriend van God” (2 Kron. 20:7 & Jak. 2:23). Die rede waarom hy “vriend van God” genoem word, is omdat hy toegang tot God se gedagtes gehad het deur die openbaring aan hom. Hy het gesien wat God se wil is en hy het dit dan ook gedoen.
In Christus is ons soveel meer bevoorreg as Abraham. Deur Christus kry ons die mees intiemste openbaring van God. Ons leer God deur Christus ken op 'n vlak wat die Ou Testamentiese gelowiges net kon begeer. Daarom kan ons ook “Jesus se vriende” genoem word.
Die wonderlike van hierdie intieme vriendskap is dat ons in Jesus se naam kan vra, en die Vader sal gee. Hy gee omdat ons selfsugtige begeertes nie meer voorop staan nie. God se wil staan vir die ware vriend van God voorop.
Ons is vriend van God omdat ons die mees intieme gedagtes van God kan ondersoek. Iets waarin selfs die engele begeerte het om insig in te verkry (vgl. 1 Pet. 1:12).
Daarom kan gelowiges groot opofferings vir ander maak. Ons het 'n Vriend wat sy lewe vir ons gegee het. Hy sorg en help en daarom kan ons gee sonder om enige iets terug te verwag.
Vrae tot introspeksie:
a) Hoe sal dit wat jy van Christus leer, jou help om meer gehoorsaam te wees?
b) Hoe sal dit wat jy van Christus leer, jou help om meer te kan opoffer?
댓글