Teks: Genesis 21:22-34
In hoofstuk 20 lees ons dat Abraham oneerlik was teenoor Abimelek. Abraham het voorgegee dat Sara sy suster was, dit terwyl sy eintlik sy vrou was.
Abraham se oneerlikheid teenoor Abimelek het daartoe gelei dat Abimelek die toorn van God op homself gehaal het (Gen. 20:17-18).
Daarom was dit vir Abimelek duidelik dat God by Abraham was en daarom groet hy vir Abraham met die woorde, "God is by jou in alles wat jy aanpak..."
Maar hoewel God by Abraham was, kon Abimelek nie die dienskneg van God vertrou nie. Die gevolg was dat Abimelek dit goed gedink het om 'n eed met Abraham af te lê waarin hulle beloof om nie weer vals teenoor mekaar op te tree nie.
Dit wys ons op die teenstrydigheid wat dikwels ook in ons lewens teenwoordig is. Ons sê dat ons gelowig is, maar ons lewe wys dit nie. Daardie dualisme van om kerk toe te gaan, maar dan mense sleg te behandel by die werk. Om met godsdiens te open terwyl jy agteraf skinder.
Dit laat mens dink aan Dawid wat die Here vra:
“Here, almagtige God, moenie dat dié wat op U vertrou, deur my toedoen teleurgestel word nie.” (Ps. 69:7)
Indien ons dade nie ooreenstem met dit wat ons bely nie, wys dit dat daar ‘n ander god is wat ons dien en vertrou.
Daarom is dit nodig dat ons as gelowiges moet sien hoe getrou God is. Ons het nie meer nodig om in eie krag vir ons 'n toekoms te bewerk nie, want God sal net soos in hierdie geval ook in ons situasie voorsien.
God het aan Abraham beloof dat Hy die land Kanaän aan hom sal gee en kyk die besondere manier waarop die Here dit doen.
Met hierdie ooreenkoms kry Abraham wettiglik die reg tot hierdie put by Berseba. Vir 'n boer wat totaal afhanklik is van water vir sy vee om te kan oorleef, was hierdie 'n groot mylpaal. Ten spyte van Abraham se ontrouheid, het God dit so bewerk dat hierdie ooreenkoms gesluit kon word.
In Christus kry ons soveel meer bevestiging dat ons God kan vertrou. Hy gee vir ons ‘n toekoms deurdat Hy sy enigste Seun gee as offer sodat ons gered kan word. Daarom is ons ons lewens aan Hom verskuldig. Daarom staan daar ook:
“Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.” (Rom. 12:1)
Die wesenlike van die godsdiens is dat ons ons lewe aan God moet toewy.
'n Dualistiese lewenswyse pas nie by 'n gelowige nie omdat ‘n gelowige nie in sekere situasies vir die Here kan leef en dan in ander situasies nie.
‘n Gelowige wy sy lewe aan die Here toe, omdat Christus sy lewe volkome aan ons toegewy het.
Vrae tot introspeksie:
a) Hoe verstaan jy ‘n dualistiese lewenswyse?
b) Hoekom pas so dualistiese lewenswyse nie by ‘n gelowige nie?
Comments